VAN WYKSDORP-NUUS - Die plaaslike polisiestasie in Van Wyksdorp is besig om 'n vars en kleurvolle nuwe baadjie aan te trek. Die projek word in samewerking met die gemeenskapslede, die ATKV en verskeie ander instansies gedoen.
Die opknappingsprojek het in die tweede week van April begin en word gelei deur Jonathan Jantjies, 'n oudinwoner van die dorp. Jantjies het opgemerk dat die gebou met die jare begin verval het, en het besluit om onder die vaandel van die ATKV iets daadwerkliks daaraan te doen.
Met die hulp van vier verwers en ses vrywilligers van die Gemeenskapswerke-program (CWP) het die span hande gevat om die gebou 'n meer gemeenskaps-vriendelike voorkoms te gee.
"Ons het begin deur die tuin op te ruim en daarna het ons van die vrywillige werkers geleer om te verf," sê Jantjies.
Johnathan Jantjies het self skouer aan die wiel gesit. Foto: Deon Meyer
Die projek is deur die ATKV gefinansier, terwyl Van Wyksdorp-polisie logistieke ondersteuning gebied het, onder andere met die vervoer van materiaal. Die Oasis-gemeenskapsorganisasie het intussen ook ingespring en etes aan die werkers voorsien.
Wat die projek verder besonders maak, is die kreatiewe sketse wat teen die buitemure van die gebou aangebring is.
Jantjies sê die projek is amper voltooi, maar dat enige verdere skenkings van die publiek steeds baie welkom sal wees.
"Hierdie is nie net 'n opknappingsprojek nie, maar ook 'n manier waarop mense nuwe vaardighede aanleer en trots op hul dorp en hulself kan ontwikkel," voeg hy by.
Hy beklemtoon ook dat die plaaslike ATKV-tak baie aktief is, en reeds by leesprogramme in skole betrokke is.
"Ons hoop om deur projekte soos hierdie die dorp mooier te maak én die gemeenskap saam te trek," sluit Jantjies af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’