OUDTSHOORN NUUS - Die onder-burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Gevan Juthe, het Dinsdag tydens 'n spesiale raadsvergadering in 'n dringende mosie gevra dat deernishuishoudings se kragbokse vir die volgende drie maande nie geblok word nie.
"Covid het almal hard getref, maar soveel meer die mense wat reeds so swaarkry. Ons kan nie van mense sonder 'n inkomste verwag om R2 000 te betaal sodat hulle kragbokse weer moet werk as hulle nie eens R10 het om krag op te sit nie," het hy gesê.
Hy het gevra dat die vergunning tot einde Januarie 2022 geld.
Tydens die vergadering is daar ook melding gemaak van die nuwe droogteplan. Oudtshoorn vorm deel van die nasionale droogte rampgebied wat deur die regering verklaar is.
Die munisipaliteit is ook in die proses om 'n nuwe droogteplan op te stel wat veral fokus op drinkwater en sanitasie en hoe brande bestry gaan word sou die munisipale gebied totaal sonder water sit.
Daar word ook beplan om watertenks aan te koop wat op strategiese plekke in die woonbuurte gesit gaan word om te verseker dat almal drinkwater het.
Burgemeester Vlancio Donson het oor die volgende agendapunt, die begroting en prestasieverslag, gepraat. Volgens hom lyk die dorp se finansiële stand van sake baie beter, maar dat oortyduitgawes steeds 'n probleem is. Hy het ook gesê dat 95,2% van die skuld ingevorder is vir September 2021.
Juthe het gesê dat mense van buite verkeerdelik dink dat mense van kleur wat die raad beheer net na die beursie kyk, maar daar kan gesien word dat die finansies tog verbeter.
Die volgende agendapunt was die verhuring van Erf 3900 aan die dorp se Rastafariërs. Die aanbevelings wat gemaak is, is dat die erf weer in die raad oorgedra moet word en dat daar dan 'n openbare deelname proses moet wees oor die verhuring van die erf. Daar moet ook 'n raamwerk aan die Rastafariërs gegee word oor waarvoor die erf gebruik mag word.
Die laaste agendapunt is deur die nuwe waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, bespreek.
Die munisipaliteit is in die proses om te kyk of daar nie van klein kontrakteurs gebruik gemaak kan word om die wyke skoon te maak nie. Volgens hom voldoen 95% van die wyke nie aan die grondwet in terme van netheid nie en dra onwettige stortings grootliks daartoe by.
Donson het 'n voorstel gemaak dat daar eers 'n volledige besigheidsplan hiervoor opgestel moet word wat dan weer aan die raad voorgelê moet word.
Burgemeester Vlancio Donson en onderburgemeerster Gevan Juthe tydens die raadsvergadering. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'