KLEIN KAROO NUUS - Slegs twee weke na inwoners van Oudtshoorn en Dysselsdorp die skok en hartseer moes verwerk van die dood van geliefde onderwyser, PJ Sauls in 'n motorongeluk, en die 14-jarige Nehemiah Jacobs wat verdrink het, tref die doodstyding weer.
Adrian Fortuin (39) en Lynniqe October (22) het Saterdagaand in 'n motorongeluk tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp gesterf.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisie Saterdag 23 November omstreeks 22:40 reageer na hulle inligting ontvang het van 'n ongeluk op die N12 tussen Dysselsdorp en Oudtshoorn waar 'n voertuig omgeslaan het.
"Met hul aankoms het hulle vier insittendes gevind, een van die slagoffers het ernstige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Twee vroue, wat ook ernstig beseer was, is beide na die hospitaal geneem. Een van die vroue het egter kort na hul aankoms by die hospitaal gesterf."
Die bestuurder (34) van die voertuig is in hegtenis geneem op aanklag van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van drank en roekelose en nalatige bestuur. Volgens Spies is hy vrygelaat en gewaarsku om op 7 Maart 2025 in die hof te verskyn.
Die ongeluk
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Oudtshoorn Courant kon wel bevestig dat Lynniqe, Adrian en die ander twee insittendes vanaf Dysselsdorp na Oudtshoorn onderweg was toe die voertuig die pad verlaat het. 'n Telkom-paal is in die proses afgery.
Kim Lekay, die ander vrou wat in die voertuig was, is weer die week gehospitaliseer. Die aard van haar beserings is nie bekend nie. Die bestuurder van die voertuig is ook die week opgeneem na hy glo pyn in sy nek begin voel het.
Lynniqe October
Sharon October, Lynniqe se tannie, sê haar dood het as 'n groot skok vir hulle gekom.
"Ons vat dit regtig swaar. Sy was 'n baie vriendelike mens en het gehou van grappies maak. Oral waar sy gekom het, het sy mense se gemoed opgehelder. Sy het 'n breë vriendekring gehad en was geliefd onder almal."
Sharon sê Lynniqe het 'n blink toekoms voor haar gehad en het absoluut geleef vir haar driejarige seuntjie, Sealynn.
"Sy was ongelooflik lief vir haar kind en sou enigiets vir hom. Lynniqe het soveel toekomsplanne vir hulle twee gehad."
Lynniqe was besig om onderwys deur Unisa te studeer. Sharon vertel dat sy verlede week haar uitslae gekry het en dat sy met drie onderskeidings geslaag het.
Sy het haar laerskoolloopbaan by PJ Badenhorst voltooi en by Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer.
Lynniqe word Saterdag 30 November in Dysselsdorp begrawe. Die diens begin om 11:00 by hul huis in Adonisweg 810, en 12:00 vanuit die UCC-saal, Dysselsdorp.
Daar word ook die week gedenkdienste ter ondersteuning van die familie en in liefdevolle herinnering aan Lynniqe by hul huis gehou. Die dienste word tot 28 November gehou en begin om 18:00.
Adrian Fortuin
Adrian Fortuin se vrou, Alicia, sê dat sy steeds nie presies weet hoe die ongeluk gebeur het nie.
"Dit is baie rou en baie seer. Ons was maar 'n jaar en 'n half getroud."
Sy het haar man as 'n liefdevolle persoon beskryf wat altyd sy hart in alles wat hy aangepak het gesit het.
"Hy was lewenslustig en was mal oor die lewe. Hy het alles met oorgawe gedoen en altyd met almal oor die weggekom"
Adrian was ook die pa van twee klein kindertjies van nege en vier jaar oud.
Hy word Saterdag in Oudtshoorn begrawe. Die reëlings vir die begrafnis kon teen druktyd nie bevestig word nie.
Kranslegging
Daar sal vandag (Donderdag 28 November) 'n kranslegging by die ongelukstoneel gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’