OUDTSHOORN NUUS - 'n Tweede man het binne twee maande sy lyf Kersvader gehou en by die skoorsteen van 'n bekende sportkroeg op die Checkers-plein ingeklim en kon toe nie daarin geslaag om weer uit te klim nie.
Volgens een die mede-eienaars van die Wicit Sportkroeg, Maurice Wicomb, het die alarm van die besigheid verlede Maandagoggend omstreeks 02:30 afgegaan waarna die vermeende dief aan die elektriese bedrading gepeuter en die ligte ook afgeslaan het.
Hy kon gevolglik niks sien nie en is binne die donker kroeg deur die polisie en lede van Suiderkruis Sekuriteit gekry en in hegtenis geneem. Hy het glo 'n vriend gehad wat op die dak gewag het en weggekom het.
Die verdagte sou Maandag op aanklag van huisbraak met die opset om te steel in die hof verskyn.
Die 28-jarige Farrell Solomons het op 9 April 2020 ook deur die skoorsteen van die Wicit Sportkroeg geklim en drank van sowat R2 700 in 'n drasak gepak. Hy is egter in die skoorsteen deur die polisie gevind toe hy nie kon uitkruip nie.
Hy is borgtog van R300 toegestaan en verskyn weer op 15 Junie in die hof.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'