OUDTSHOORN NUUS - ‘n Vrou van Thabo Mbeki Square, Ouma Maria Ryneveld (75), spog met ‘n opgeknapte huis danksy die Oudtshoorn-munisipaliteit in samewerking met die departemente korrektiewe dienste en maatskaplike ontwikkeling, die ACVV, die CP Nel-museum en die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) as deel van die munisipaliteit se voortgesette Mandeladag aktiwiteite.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het tydens die oorhandiging gesê die dade van goedhartigheid van die ontslape Mandela moet na Mandeladag voortgesit word waardeur die gemeenskap werklik sy voorbeeld van omgee kan laat voortleef.
“Nelson Mandela was die persoon wat werklik die konsep van Ubuntu prominent uitgedra het,” het Sylvester gesê.
Hy het ‘n besondere woord van dank gerig aan die gevangenes van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste (DKD) wat die opknapping van die huis gedoen het.
“Dit is mense wat een of ander tyd terug moet gaan na hul onderskeie gemeenskappe en ook hul lewens moet herstel.”
Tydens die oorhandiging van die opgeknapte huis is voor, van links: Esmarelda Grootboom en Niscolene Botha (maatskaplike werkers), Weziwe Tshazibana (DKD), Maria Ryneveld, Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester), Stephzeli Willemse (departement maatskaplike ontwikkeling) en Amos Kibido (DKD). Agter: Phillip Seroux (Oudtshoorn Christelike Jeugforum) en Norman Lodewyk (DKD). Foto: Garnett Wicomb
Volgens Weziwe Tshazibana van die DKD het personeel en gevangenes saam besluit om terug te ploeg in die gemeenskap.
Ouma Maria se huis was onveilig om in te woon en is deur ‘n maatskaplike werker van die omgewing, Nicolene Botha, uitgewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'