Update
OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die munisipaliteit moontlik 'n presedent geskep het deur mense toe te laat om informele strukture langs die gholfbaan op te rig en ook dienste aan hulle te lewer.
Nadat dit verlede week bekend geword het dat daar nou 46 strukture op die stuk grond langs die N12-hoofroete opgeslaan is en water en toilette aan hulle verskaf is, het strukture op verskeie ander plekke verskyn. In Rosebank het 19 strukture op 'n oop stuk grond langs Petunialaan die naweek soos sampioene verrys.
Met 'n besoek van die Oudtshoorn Courant aan dieselfde stuk grond verlede Woensdag toe inwoners oor strate gekla het, was daar geen teken of sprake van 'n nedersetting wat daar sou verskyn nie.
Volgens een van die mense wat oor die naweek 'n huis opgeslaan het, is hulle mense wat voorheen agter in erwe gewoon het en nou besluit het om die stuk grond te beset en aan te dring op dienste. Volgens verskeie mense is die oop stuk grond 'n gevaar vir die gemeenskap omdat daar gereeld voorvalle van geweld plaasvind en mense ook vullis daar stort. "Ten minste is dit nou veiliger hier, want ons bly mos nou hIer," het een vrou gesê.
Daar is verneem dat enkele strukture ook reeds in 17de-laan en langs Dassieweg opgerig is en dat meer mense van voorneme is om strukture daar op te slaan. Zyna Mduma, die verteenwoordiger van die Backyard Dwellers of Hope langs die gholfbaan sê hulle het niks te doen met nedersettings wat op ander plekke ontstaan nie.
"Ons is besig met die munisipaliteit om vir ons groep 'n ander plek te gee waar ons tydelik kan gaan woon en weet niks van ander groepe se planne nie."
'n Navraag oor die strukture wat op verskillende plekke opgeslaan word, is Dinsdag aan die munisipaliteit gestuur en daar word op terugvoering gewag.
Lees 'n vorige artikel: Nog plakkers soek dienste
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'