OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) het op Saterdag 9 Augustus 'n besondere Vrouedagviering by die idilliese Swartberg Country Manor aangebied. Die geleentheid is gereël om vroue uit die plaaslike gemeenskap te eer, te inspireer en te bederf.
Altesaam 140 dames uit die vallei het die dag bygewoon, wat gevul was met vreugde, gemeenskapsgees en bemoedigende boodskappe.
Die program het 'n kombinasie van kos, sang, dans en inspirerende toesprake ingesluit.
Verskeie gemeenskaps- en geestelike leiers het die gehoor toegespreek en die belangrike rol van vroue as pilare van hul gesinne en die breër gemeenskap beklemtoon.
Die dames is bederf met 'n feestelike maaltyd en vermaak wat die atmosfeer versterk het. As teken van waardering het elke gas aan die einde van die program 'n Bybel ontvang, 'n simboliese geskenk van geloof, leiding en hoop.
Met die tema, Neem terug jou vrouwees, het die GPF en gemeenskapsleiers 'n kragtige boodskap van erkenning, liefde en versterking oorgedra.
Die sukses van die dag het nie net bygedra tot die opheffing van die gaste se geesdrif nie, maar ook die boodskap beklemtoon: wanneer 'n gemeenskap saamstaan om sy vroue te eer, bou dit aan 'n sterker en meer veerkragtige toekoms vir almal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’