OUDTSHOORN NUUS - Nasionale Bewusmakingsmaand vir die regte van gestremdes word jaarliks vanaf 3 November tot 3 Desember in die kollig geplaas.
Dit dien as ’n noodsaaklike herinnering van gedeelde verantwoordelikhede om toe te sien dat mense met gestremdhede in alle vorme van lewe ingesluit word.
Die Wes-Kaapse departement van sosiale ontwikkeling sien die projek as een van hul belangrikstes en sien toe dat nodige probleme ondersoek en opgelos word. Gedurende die veldtog beoog die departement om inwoners aan te moedig om ’n meer inklusiewe, toeganklike samelewing vir almal te skep, veral gestremdes.
Die departement het hul befondsing vermeerder van R196 miljoen na R224 miljoen vir die volgende boekjaar.
Die befondsing gaan aan 221 nie-regeringsorganisasies (NRO's) wat verskeie bystanddienste aan persone wat gestremd is verskaf.
Dit sluit in: Gestremdheid bewusmaking en opvoedingsprogramme, die ontwikkeling van terapeutiese dienste, berading, sosiale werkers en bystandsgroepe. Dagprogramme vir volwassenes en kinders met gestremdhede, bystandprogramme vir families en versorgers, beskermde werkgroepe, asook residensiële bystand en veilige residensiële blyplekke vir gestremdes.
Die provinsiale minister van die departement van sosiale ontwikkeling, Jaco Londt noem, “Hierdie jaar se tema vir Bewusmakingsmaand vir die regte van gestremdes is die skepping van strategiese multisektorale vennootskappe vir ’n gestremdheid inklusiewe samelewing. Samewerking is noodsaaklik en as ’n departement erken ons vennootskappe met ander Wes-Kaapse departemente en sfere van regering, NRO's, die privaat sektor en gemeenskappe om dienste te versterk.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’