Video
LADISMITH NUUS EN VIDEO - Sy doen nog haar eie huistake en wasgoed en het geen ernstige kwale nie. Magrieta Barry van Braklaagte op die sendingdorpie Amaliënstein, net buite Ladismith, is op die ouderdom van 100 waarskynlik die oudste inwoner van Kannaland en sy glo dat God haar tot hier gedra het.
Ouma Grietjie, soos sy alombekend staan, vertel dat sy op 27 Maart 1924 op Gamkaskloof (Die Hel) gebore is as een van 12 kinders. Die familie het later Matjiesvlei toe getrek, en in 1963 het sy en haar man, Piet, hulle in Amaliënstein gevestig. Sy woon tans saam met haar 73-jarige seun, Cornelius.
"My ouers en my skoonouers het hul seën oor my lewe gespreek, daarom, en so glo ek, is ek so geseënd vandag. Ek kan nog dinge van ver in die verlede baie goed onthou, maar my korttermyngeheue is nie so goed nie. My ouers het my vertel van die Groot Griep wat ses jaar voor my geboorte plaasgevind het. Dit was glo amper nes die Corona-siekte van nou die dag," sy.
Magrieta Barry en haar man, Piet, op hul troudag.
Alhoewel sy wel 'n pasaangeër het, het sy 'n redelike aktiewe lewe en het sy nie hoë bloeddruk of suikersiekte nie.
"Ek drink my kruie soos wildeals, bakbossies en knoffelwater gereeld. Die tuisversorgers besoek my gereeld."
Sy het geen skolastiese opleiding nie, maar resiteer graag gedigte.
Ouma Grietjie noem dat sy baie graag 'n paar diertjies soos bokkies of skapies sou wou hê omdat sy baie lief is vir diere.
"Ek wil nie baie hê nie, net so dat ek hulle self kan versorg. Dit sal my groot vreugde verskaf."
Video: Ouma Grietjie vier 'n volle 100 jaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’