OUDTSHOORN NUUS - Die gesoute akteurspaar, Lida en Johan Botha, wat reeds meer as 50 jaar getroud is, verhuis aan die einde van Mei na Oudtshoorn nadat hulle etlike jare buite Calitzdorp gewoon het.
Om hulle te verwelkom en te ondersteun reël Daniel Kritzinger en 'n klompie vrywilligers 'n spesiale aand op 13 Junie vir die Bothas by Surval buite Oudtshoorn.
Die Kritzingers, wat verlede jaar van Stellenbosch na Oudtshoorn verhuis het, ken Lida omdat sy dikwels by hul gastehuis in Stellenbosch oornag het.
"Die Bothas is merkwaardige mense en op 90 werk Lida nog steeds as aktrise," het Kritizinger dié week gesê. "Hulle is volksbesit en ek het besluit om 'n huldigingsaand vit hulle te reël waar mense hulle kan leer ken en ook om hulle te ondersteun. Die reaksie op die inisiatief is uitstekend en ons het reeds met Surval Boutique Olive Estate onderhandel om die funksie daar aan te bied."
Hy het gesê dat Surval ingestem het om slegs koste vir spyseniering te vra en die venue en alles wat daarmee gepaardgaan gratis te verskaf. "Ons wil dit 'n geleentheid maak wat werklik spesiaal is sonder om dit 'n formele aansitete te maak."
Die aand word ingelei deur prof. Nico Luwes, afgetrede hoof van drama by die Vrystaatse universiteit en 'n goeie vriend van die Bothas. Hy gaan op die verhoog met hulle gesels, waarna gaste gesellig met die akteurspaar kan verkeer.
Die lys van rolprente, televisieprogramme, verhoogstukke en radio-aanbiedinge waarin die twee oor dekades heen verskyn het, is te lank om op te noem. Hulle het vir die eerste keer in 1979 in die destydse televisiereeks, Nommer asseblief, saam opgetree.
In 2025 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulle met 'n ere-penning bekroon vir hulle bydrae tot uitvoerende kuns.
Johan (86) aanvaar om gesondheidsredes reeds 'n aantal jare lank nie meer akteurswerk nie, maar Lida was onlangs nog te sien in die hoofrol van die rolprent, Die Kwiksilwers. Tussen die twee van hulle is daar 'n skatkis van ervaring en stories. Albei is uitmuntende storievertellers met 'n lewendige humorsin wat beloof om die aand uiters interessant te maak.
Kaartjies vir die geleentheid moet vooraf bespreek word.
Kontak Daniel Krizinger (083 326 9265) of Christo Smit (072 833 7723) vir navrae en besprekings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’