OUDTSHOORN NUUS - Die Vriende van die Museum het Donderdagaand, 13 November, gaste trakteer by ’n spesiale ‘Night at the Museum’ en kaartjies vir die geleentheid het soos soetkoek uitverkoop.
Buiten dat die aand ’n spesiale geleentheid aan gaste gebied het om die museum te verken het dit ook gedien as ’n fondsinsamling.
Die aand het afgeskop met die Doyenne van Oudtshoorn-kultuur, Hazel Jonker, wat meer vertel het oor die nuwe Poolse uitstalling en monument. Hierna is daar gefokus op die Porselein-uitstalling, die sinagoge en die kloktoring.
Die porselein-afdeling het hierdie jaar ekstra aandag gekry nadat al die porselein skoongemaak, herstel en geskuif is na die korrekte uitstalruimte in die museum se straattoneel.
Christo Smit, voorsitter van die Vriende van die Museum, sê dat hul as komitee baie tevrede is met die sukses van die geleentheid.
“Die opkoms was wonderlik, die belangstelling in ons erfenis was duidelik, en die samewerking tussen ons sprekers, vrywilligers en die wynplase het die aand spesiaal gemaak. ’n Groot dankie aan elke vriend en elke bywoner wat dit moontlik gemaak het, julle betrokkenheid en ondersteuning wys hoe diep die gemeenskap omgee vir die CP Nel-museum.”
Werk wat tans gedoen word:
- Die horlosie van die kloktoring word herstel.
- Die twee beskadigde sandsteen-hekpilare voor die museum is onlangs herbou en versterk.
- Die Poolse uitstalling is opgeknap en kan ’n video oor die geskiedenis van die Poolse kinders op ’n televisie by die uitstalling gekyk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’