Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn het die week met groot skok van die dood van een van Oudtshoorn se mees behulpsame en geliefde inwoners, Graham Samson (44), verneem. Samson het jare by Checkers gewerk.
Meeste inwoners het hom geken as die vriendelike hand wat gehelp het om die winkelpakkies veilig by die kar te besorg en nooit gekla of gehuiwer het wanneer iemand hulp nodig gehad het nie.
Sy seun Ronald Samson sê sy pa was egter veel meer as dit. "Hy was 'n man met waardes. Hy het hard gewerk vir als wat hy in die lewe wou gehad het. Hy het sy kinders met dieselfde waardes grootgemaak, want dit was vir hom belangrik."
Ronald sê sy pa het nooit kwaad aan ander gedoen nie.
"Hy sou eerder sy laaste vir ander gee om hulle verligting te bring as hulle dit nodig gehad het."
Hy sê sy pa het altyd gespog en gesê dat 'n liter Coke R5 gekos het toe hy by Checkers begin werk het - minder as wat 'n liter petrol toe gekos het. Volgens hom was sy pa se dood vir almal 'n skok.
"My ma is aan Covid oorlede. My pa was versot op haar en dit was vir hom 'n groot skok. Hy het dit nooit werklik verwerk nie. Hy is onlangs as 'n diabeet gediagnoseer en was ook nie baie lank siek nie. Hy is twee weke gelede in die hospitaal opgeneem en het Saterdag in die hospitaal gesterf."
Magda Ewerts, 'n vriendin van Samson, sê hy sou enigiets vir sy medemens doen. "Hy was 'n mense mens, 'n omgeemens."
Sy sê sy was 18 jaar oud toe sy by Oudtshoorn-taxistaanplek begin werk het en het hom daar ontmoet. "Hy het op daardie stadium groente, vrugte en koeldranke daar verkoop. Soggens as ek by die taxistaanplek kom was Graham reeds daar."
Sy beskryf hom as 'n liefdevolle mens met 'n breë glimlag. "Soms as besigheid swak was dan sal hy altyd vir my sê hou goeie moed my suster, ons het families vir wie ons moet sorg. Ons was altyd biddend vir mekaar."
Sy sê sy gaan die bemoedigende woorde baie mis.
Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
Vorige artikel: Man oorlede aan natuurlike oorsake
Wyle Graham Samson (44)
Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’