OUDTSHOORN NUUS - Adjudant-offisier Jacinda April is 'n gewaardeerde en bekende gesig in Oudtshoorn, veral vir haar betrokkenheid by sigbare polisiëring en gemeenskaps-veiligheid.
Polisiewerk was nie deel van haar aanvanklike loopbaanplan nie. Ná 'n onsuksesvolle poging om maatskaplike werk te studeer, het sy vir drie jaar tydens die KKNK as kelnerin gewerk en later wortelkoeke vir 'n ekstra inkomste gebak.
Haar lewe het 'n ander wending geneem toe sy eendag by Checkers gehoor het dat polisievorms beskikbaar is en besluit het om aansoek te doen.
Sy het die proses suksesvol deurloop en haar opleiding in Oudtshoorn ontvang, waar sy ook gestasioneer is. Na 19 jaar diens is sy onlangs deur lt.kol. Tanja du Plessis genooi om by die eenheid vir sosiale misdaadvoorkoming aan te sluit.
"Die beginjare was moeilik," erken sy, "maar ek het geleer om elke situasie met geduld en insig te hanteer. Elke klagte verg 'n unieke benadering." Sy beklemtoon die belangrike rol van die gemeenskap in misdaadvoorkoming: "Die mense is die oë en ore van die polisie."
Ten spyte van verskeie onsuksesvolle aansoeke, het sy nooit moed opgegee nie, en glo dat God die regte deur op die regte tyd sou oopmaak. Vandag lei sy uitreikings en bewusmakingsprojekte in skole en die breër gemeenskap.
Wat haar aanhou dryf, is die opregte waardering van die jong kinders in die gemeenskap. "Wanneer hulle my op straat sien en sê: 'Auntie was by ons skool!', weet ek, ek maak 'n verskil."
Wat beteken Vrouedag vir jou?
"Vir my is dit elke dag Vrouedag," sê sy. "Ek wil vroue en dogters bemoedig om te volhard, maak nie saak watter uitdagings die lewe bied nie."
As enkelma het sy na die dood van haar ouers haar eie behoeftes opgeoffer om vir haar dogter 'n beter toekoms te bou. Haar dogter, Anreé April, is tans in matriek aan Hoërskool Oudtshoorn. "Sy lag as ek sê: 'Na jou matriek begin mý lewe'. Opoffering is deel van die lewe, maar as jy weet hoekom, word dit 'n doel, nie 'n las nie."
Boodskap aan vroue
"My raad aan jong vroue wat 'n polisie-loopbaan oorweeg is om hul emosioneel voor te berei. Dis 'n verantwoordelikheid wat diep in jou lewe insny."
Sy beklemtoon die belangrikheid om jou vriendekring en sosiale gewoontes te evalueer, aangesien jou optrede buite dienstyd die polisie se beeld beïnvloed.
Haar kernboodskap is duidelik: "Moet nooit op mense neersien nie, maar hanteer almal met dieselfde respek. Dit bou vertroue en lê die fondament vir gemeenskapsveiligheid."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’