OUDTSHOORN NUUS - Solidariteit Helpende Hand het Dinsdagaand, 13 Januarie, ’n netwerkaand aangebied om die organisasie aan die gemeenskap bekend te stel.
Alna de Waal, maatskaplike werker en Marelise Labuschagne, assistentstreekorganiseerder, Suid-Kaap, het die aand aangebied.
Solidariteit Helpende Hand is ’n welstandsorganisasie wat in liefde en met uitnemendheid werk om welstand volhoubaar te bevorder deur opleiding, opvoeding en maatskaplike ontwikkeling.
Labuschagne het verduidelik dat Helpende Hand deel is van die groter Solidariteit-beweging en is geskoei op die beginsels van die Helpmekaar Beweging wat in 1949 gevestig is.
“Ons bevorder werkskepping, selfstandigheid en volhoubare welstand binne en deur die Afrikaner-gemeenskap. Ons fokus is maatskaplike opheffing, kulturele versterking en ekonomiese bemagtiging as die boublokke van ’n vooruitstrewende gemeenskap. Ons benadering rus op selfhelp, selfbeskikking en aktiewe gemeenskapsdeelname. Ons help individue en gemeenskappe om verantwoordelik, funksioneel en selfstandig te leef deur projekte, opleiding, opvoeding en die vestiging van volhoubare netwerke en strukture.
“Ons dra spesiale sorg aan die beskerming van die mees kwesbare lede van ons gemeenskap: kinders, bejaardes en mense met gestremdhede. Hierdie groepe word ondersteun deur versorging- en terapeutiese programme wat hul welsyn, veiligheid en waardigheid verseker.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’