OUDTSHOORN NUUS – Die vlaag vandalisme wat tans in Oudtshoorn en veral by die Oudtshoorn-taxistaanplek gesien word, het die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, met sy hande in sy hare.
"Ons het nie 'n onuitputbare bron van inkomste nie, dit is tyd dat die kwaaddoeners besef dat hulle in hegtenis geneem sal word wanneer hulle gevang word," het hy gesê.
Dit is duidelik dat die taxistaanplek se toiletgeriewe swaar onder vandalisme gebukkend gaan.
Oudtshoorn Courant het saam met Hendricks en George Kersop, kantoor-bestuurder van die burgemeester, gestap om te sien waaroor die ongelukkigheid van stalletjiehouers in die omgewing gaan.
Die taxistaanplek word omring deur stalletjiehouers wat huurgeld aan die munisipaliteit betaal om hul produkte daar te verkoop.
Die toiletgeriewe wat deur die munisipaliteit bestuur word, is tot hulle sowel as die publiek se beskikking, maar die "euwel van menslike moedswilligheid", soos Hendricks dit stel, het daartoe gelei dat die toiletgeriewe heeltemal geplunder is - toilet- en wasbakke is van die mure afgeruk. "Dit oortref die morele en etiese waardes," sê 'n ontstelde Hendricks.
Dit het die munisipaliteit genoop om 'n bewusmakingsveldtog van stapel te stuur omdat "ons keelvol is vir die installering van fasiliteite, net om 'n paar dae later te hoor dat dit geplunder is", sê Hendricks.
Hendricks wil oortreders waarsku dat hulle nie meer gaan toelaat dat die diefstal van telefoon- en ondergrondse kabels en munisipale toerusting, geboue wat beskadig word, die skending van die begraafplaas en verkeerstekens verder gesteel en geplunder word nie.
Hendricks wil dit beklemtoon dat die munisipaliteit keelvol is, 'genoeg is genoeg'.
"Die publiek moet besef dat daar op hierdie trant nie meer geld oor sal wees om die skade weens vandalisme te herstel nie. Die publiek moet ons, die munisipaliteit, help om op te staan teen die misdaad, dit is 'n noodkreet van die munisipaliteit," sê 'n moedelose Hendricks.
Oudtshoorn-burgemeester Chris Macpherson en Hendricks doen 'n beroep op die publiek om vandalisme en plunderdade aan te meld. "Oortreders sal met die gereg te doen kry, ons gaan toeslaan op hulle."
Die personeel by die beheerkamer is reeds ingelig dat wetstoepassers onmiddellik ontbied moet word indien hulle 'n oproep van die publiek ontvang waar iemand plunder. Enige voorvalle kan onmiddellik by 044 203 3090 of 044 203 7800 aangemeld word.
Intussen vertrou Hendricks op die samewerking van verskeie departemente en soek hy ook advies van die stalletjiehouers om hierdie probleem te bekamp.
Die toiletbak is geplunder.
Walter Hendricks, munisipale bestuurder van Oudtshoorn staan voor die gebou waarin die toiletgeriewe geplunder is.
Die toiletgeriewe word toegesluit om te voorkom dat dit wat in die badkamers oor is nie verder geplunder word nie. Alias Kiewiets, 'n werker van die munisipaliteit sluit die hekke oop vir inspeksie.
Alias Kiewiets, werker van die munisipaliteit wys vir Hendricks en Kersop hoe kwaaddoeners op die tralies klim om in die gebou in te kom.
'n Wasbak is uit die muur gebreek. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'