OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-munisipaliteit het op 3 Maart 'n waar-skuwing vanaf die munisipale brand-, redding- en rampbestuur, dat stortreën die Groter Oudtshoorn op Saterdag 4 Maart en Sondag 5 Maart sou tref, ontvang.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit het rampbestuur versoek dat raadslede en betrokke departemente 'n reaksiespan koördineer vir die doeltreffende reaksie om tydens die voorspelde reën, vloede, ontwortelde bome, elektriese kabelfoute en informele nedersettingskwessies aan te spreek.
Elektirsiteitsonderbrekings en skade weens die reën
Mle vertel dat dit sowat 10 ure geneem het om 'n Eskom-132kv-11kw-transformator, wat Sondag 5 Maart ingegee het, te herstel.
"Die munisipaliteit het toe ingespring en die dorp op 'n 22kv-stelsel van elektrisiteit voorsien. Die gemeenskap is gemaan om elektrisiteit spaarsamig te gebruik omdat daar slegs 'n beperkte hoeveelheid krag beskikbaar is," vertel sy.
Volgens Mle het die beheerkamer meer as 100 oproepe ontvang van huishoudings en gebiede wat sonder elektrisiteit was. Vier elektrisiëns het aaneen gewerk om aandag aan al die probleme te gee. "Teen 13:00, Maandag 6 Maart was daar sleg 18 probleme wat nog aandag moes kry," vertel sy.
Kwaliteit van water by De Rust en Blomnek
Die hoofbron van water vir De Rust en Blomnek vloei uit die Huisrivier. Hierdie rivier vloei baie sterk na die reën en veroorsaak dat die water troebel is. Volgens Mle het De Rust nie 'n watersuiweringaanleg nie en word dit slegs deur chlorering ontsmet.
"Die toename in troebelheid hou geen direkte gevaar vir verbruikers in nie, maar dit beïnvloed wel die effektiwiteit van die chlorering," vertel sy. Inwoners word versoek om die water in Blomnek en De Rust te kook voordat dit gebruik word totdat die watergehalte na normal terugkeer.
Oudtshoorn voertuigtoetssentrum is tans buite werking
Die voertuigtoetstasie by Oudtshoorn-verkeersdepartement is tans gesluit weens toerusting wat waterskade opgedoen het. Die publiek sal op hoogte gehou word wanneer die toetssentrum weer operasioneel is.
Meiringspoort
Meiringspoort was van Sondagmiddag tot Maandagmiddag gesluit, maar is weer oop vir verkeer. Volgens Mle was daar motoriste wat vasgekeer was in die poort. Hulle is gered en daar was geen lewensverlies nie.
Die munisipaliteit maan voertuig-bestuurders om bewus te wees van swaar reën wanneer hulle deur Meiringspoort ry en versoek dat wanneer dit erg reën bestuurders nie sal stop om die natuurskoon te bewonder nie.
Voertuigbestuurders moet so gou as moontlik probeer om deur die poort te ry om te verseker dat hulle nie gestrand raak nie. Mle vertel dat die laagwaterbrûe baie vining oor die pad vloei wat dit moeilik maak om die brûe oor te steek.
Oorstroomde paaie
Laagwaterbrûe in Oudtshoorn, wat in die Grobbelaarsrivier geleë is, was oorspoel. Volgens Mle het dit gelei tot paaie wat in en om die Groter Oudtshoorn vir verkeer gesluit moes word. Rotsstortings het op die pad na George plaasgevind.
Reënval
Die reënval het Maandag meer as 50 mm in sekere dele van Oudtshoorn gemeet en op dieselfde dag, is 20 mm by die Raubenheimerdam gemeet. Volgens Mle het die damvalk van 69,7% tot 75,15% gestyg.
Meiringspoort se paaie word na die vloed skoongemaak. Foto's: verskaf
Huisskade aangemeld
Ongeveer 183 gumplus (waterdigte plastiekplate) is tussen Sondag en Maan-dag versprei. Mle vertel dat daar baie aanmeldings van skade was in Blackjoint, Kanaal- en GG-kamp sowel as Volmoed, Kliplokasie en Bongolethu.
Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn het verskeie areas op Sondag 5 Maart voor en na die stortreën besoek om die omvang van die skade te bepaal. Hy bedank al die inwoners van Oudtshoorn vir hulle geduld rakende die aanmelding van elektriese probleme en skade aan wonings.
"Ek wil ook graag die toegewyde personeel vir hulle harde werk om die skade te herstel, bedank."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'