OUDTSHOORN NUUS - Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit het goedkeuring van die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ontvang vir 'n plan om die vloedskade in die Grobbelaarsrivier te herstel.
Die Grobbelaarsrivier het geweldige skade in Junie se oorstromings gely.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, laat hierdie goedkeuring die munisipaliteit toe om die rivier op te ruim en te herstel, met die fokus op die verwydering van puin en die herstel van skade.
Skade aan 'n laagwaterbruggie in St. Johnstraat. Foto: Liezl van Niekerk
"Die munisipaliteit het middel Augustus goedkeuring gekry en spanne het dadelik begin om puin uit die rivier skoon te maak en beskadigde infrastruktuur naby Albertstraat te herstel. Hierdie inisiatief sal uitgebrei word om bykomende areas aan te spreek wat vroeg in September begin. Die fokus sal strek vanaf die keerwal agter die Caves-aftreeoord tot by die spoorwegbrug in Rademeyerstraat. Dit word in ses afdelings verdeel om die werk meer hanteerbaar te maak en sal na verwagting ongeveer drie maande neem, afhangend van begrotingsgoedkeuring," verduidelik Mle.
Sy sê dat daar wel 'n paar uitdagings aan die herstelplan verbonde is.
"Daar is 'n paar uitdagings met toegang tot sekere gebiede, wat dit moeilik maak om al die nodige werk te assesseer. Eienaars van eiendom langs die rivieroewer wat skade ondervind het, word aangemoedig om Chris Swart by swartc@oudtmun.gov.za te kontak vir bystand. Die munisipaliteit sal hierdie areas assesseer, en waar moontlik by die skoonmaakpogings insluit. Privaat grondeienaars en belanghebbendes wat deel wil wees van hierdie inisiatief word ook aangemoedig om met Chris Swart in verbinding te tree."
Skade in Rademeyerstraat.
Mle sê 'n span gelei deur die infrastruktuur-afdeling, parke en ontspanningsdepartement en die omgewingskantoor sal toesig hou oor hierdie projek.
"Die begroting vir hierdie poging word op R300 000 geraam, wat die indiensneming van EPWP-werkers vir die projek se duur insluit. Tans is daar geen spesifieke begrotingstoewysing nie, maar die departement van water en sanitasie het hom daartoe verbind om sekere kostes te dek. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie aanvanklike fase nie take behels soos die verwydering van uitheemse plante of riete of die verfraaiing van die rivieroewers nie. Hierdie take sal aangespreek word sodra die Rivierinstandhoudingsplan op 'n latere stadium ten volle geïmplementeer is. Die suksesvolle voltooiing van hierdie projek sal na verwagting beide die gemeenskap en infrastruktuur op 'n omgewingsvriendelike manier bevoordeel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’