OUDTSHOORN NUUS - Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit is tans besig met die Bongolethu-modderhuisprojek, 'n inisiatief wat gefokus is op die herbou van 25 verswakte modderhuise om veilige en waardige huise aan inwoners in nood te bied. Hierdie projek het ten doel om lewensomstandighede en gemeenskapsontwikkeling in Bongolethu te verbeter.
"Deur goeie samewerking met ons belanghebbendes het die menslike nedersettingskantoor van die munisipaliteit 'n deurslaggewende stap vorentoe geneem met die Bongolethu Modderhuis-projek, om te verseker dat inwoners toegang kry tot veilige, duursame en waardige behuising," sê burgemeester Johan Allers.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, spreek die projek 'n uitdaging aan wat terugdateer tot voor 1994.
"Destyds is vakante erwe in Bongolethu aan individue toegewys, wat gelei het tot wisselende vlakke van ontwikkeling oor die jare. Terwyl sommige eiendomme ten volle ontwikkel was en geen hulp nodig gehad het nie, was baie ander swak geboude modderhuise, wat sedertdien aansienlik agteruitgegaan het," verduidelik sy.
'n Aanvanklike opname het 80 modder-huise geïdentifiseer wat aandag benodig, dit het later tot 97 gestyg namate meer inwoners vir hulp tydens veldassesserings geregistreer het. Hierdie huise is gekoppel aan nood-saaklike dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en padtoegang.
In 2017 het die swak toestand van die modderhuise gelei tot 'n formele brief aan die LUR. 'n Afvaardiging van vier Bongolethu-komiteelede, vergesel deur die voormalige direkteur van behuising, het na Kaapstad gereis om 'n oplossing vir hierdie probleem te vind.
Mle sê 'n ingenieur het tydens 'n inspeksie bevind dat 18 huise gesloop moet word, sewe huise was leeg, en 73 huise benodig herstelwerk.
Om hierdie uitdagings die hoof te bied, het die begunstigdes van die 18 strukture wat vir sloping geïdentifiseer is toestemming vir die proses gegee. Al die begunstigdes het alternatiewe verblyf gekry.
Vanaf September 2024 is aansienlike vordering gemaak.
Die munisipaliteit het 'n omvattende aansoek by die provinsiale regering ingedien, insluitend huisplanne, volmagdokumente en titelaktes om eienaarskap te bevestig.
Die slopingsproses, gedryf deur ASLA-konstruksiemaatskappy, is reeds aan die gang.
"Die Bongolethu-modderhuisprojek beloof nie net om 25 huise te herbou nie, maar simboliseer ook 'n stap in die rigting van verbeterde lewensomstandighede en waardigheid vir inwoners. Hierdie inisiatief weerspieël die munisipaliteit se verbintenis om historiese ongelykhede aan te spreek," het Allers gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’