OUDTSHOORN NUUS – 'n Kennisgewing vir die beëindiging van okkupasie en kennisgewing om die perseel te ontruim is verlede week aan Odin en Oudtshoorn-diereherberg oorhandig.
Die besluit dat die skut alleenlik vir munisipale doeleindes gebruik gaan word, is verlede jaar September deur raadslede tydens 'n raadsvergadering geneem.
Die kennisgewing lui dat die dierewelsynsorganisasies die munisipale perseel teen 10 Maart moet ontruim.
Dit gee die dierewelsynsorganisasies twee maande kans om die diere te skuif of te reël dat hulle aangeneem kan word.
Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur en die volgende antwoord vanaf Hannes Visser, woordvoerder vir die Oudtshoorn-burgemeester ontvang wat ingetree het vir Aurelia Mle, woordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit, tydens die bespreking.
"Verteenwoordigers van Oudtshoorn Dogs in Need het op 16 Januarie 'n afspraak met Walter Hendricks, die munisipale bestuurder, gehad.
Hulle het verduidelik dat hulle daarvan bewus is dat hulle die munisipale skut moet ontruim, maar het gevra dat daar uitstel gegee word aangesien hulle nie teen die einde van Maart al hulle diere in George sal kan huisves nie. Hendricks het hulle gevra om 'n skriftelike versoek te rig waarin hulle vra vir uitstel tot aan die einde van Julie. By ontvangs daarvan sal hy die aansoek oorweeg en hom ook vergewis van die kwessie by die skut.
Oudtshoorn-diereherberg
Oudtshoorn-diereherberg het ook aan Oudtshoorn Courant genoem dat hulle bewus is van die kennisgewing en ook moontlik aansoek sal doen vir uitstel aangesien twee maande nie genoegsame tyd sal wees om alles in orde te kry vir die skuif nie. Oudtshoorn-diereherberg het ook genoem dat hulle alreeds werk gemaak het om grond te werf, maar dat hulle nog nie verseker is van enigiets nie.
"As daar iemand is wat grond beskikbaar kan stel vir 'n diereskut, sal ons dankbaar wees, hierdie is 'n groot uitdaging vir ons."
"Ons is dankbaar vir die tyd wat ons van die munisipale skut gebruik kon maak en sien ook uit na die verhouding wat ons vorentoe met hulle gaan bou."
Oudtshoorn Dogs in Need
Die organisasie beplan om nie verder diere in te neem nie, en om ook nie in die toekoms diere te huisves in 'n Oudtshoorn skut-omgewing nie.
Odin sal steeds in die toekoms, daagliks 'n diens aan die gemeenskap lewer deur kos, mediesehulp en ondersteuning te gee. Hulle verneem om, nadat hulle vir die huidige diere wat tans by hulle staan, tuistes gevind het, nie weer diere in te neem in hokke nie.
"Dit was wonderlik dat die Oudtshoorn-munisipaliteit ons vir byna agt jaar tegemoet gekom het met 'n hokke waar ons diere in nood kon huisves." Odin sal voortaan, nadat hulle honde tuistes gevind het en oorgeplaas in na George, die dierewelsynsorganisasie vanaf George bedryf.
Oudtshoorn Courant sal gereeld, van albei organisasies, diere plaas vir aanneming.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'