OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede week op Vrouedag 'n spesiale geleentheid vir vroue van Oudtshoorn gereël.
Die 100 gaste was vroue van verskillende organisasies en besighede wat 'n groot rol in die gemeenskap speel.
Onderburgemeester, Noluthando Mwati, het tydens haar verwelkoming aan die gaste gesê dat as vroue hulle ingesteldheid en manier van dink kan verander dan bring hulle eer aan die vroue wat in 1956 opgestaan het vir hulle regte en op 'n kalm, dog ferm manier gesê, "genoeg is genoeg".
Die hoofspreker van die middag was landdros Lorraine Samuels. Samuels het vroue terug laat dink aan waar hulle vandaan kom, tot waar hulle hulself vandag bevind.
Salome Plaatjies van Plumbline Restoration het 'n motiveringsboodskap met die vroue gedeel en haar woorde aan die vroue was: "U as vroue is nie gebore om in te pas nie, maar om uit te staan. Moenie iets doen vir ander om jou raak te sien nie, maar doen dit vir jou."
Edgars en Justine het ook die vroue verras met verskillende geskenkbewyse.
Gail Arends het gesing en jong meisies het ook vir die gehoor gedans.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'