OUDTSHOORN NUUS - Die onlangse vloed het massiewe skade aan Oudtshoorn se paaie veroorsaak en 'n aantal paaie waar laagwaterbruggies voorkom is steeds gesluit.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die munisipaliteit 'n herstelplan en het die span verbonde aan die straat- en stormwaterafdeling met herstelwerk in Victoriastraat begin.
"Daarna word daar beweeg na Rademeyerstraat, wat dan stelselmatig die res van die Groter Oudtshoorn insluit. Daar is ook ‘n span wat op die oomblik besig is om in Petuniastraat in Bridgton te werk."
Volgens haar is daar aansoek by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit gedoen vir rampbefondsing.
"Die onvoorsiene aard van rampe het 'n impak op die begroting gehad. Daar is nie spesifiek 'n nuwe begroting opgestel vir sulke rampe nie, omdat dit moeilik is om die omvang van die impak van rampe te kwantifiseer.”
St. Johnstraat se skade. Foto's: Liezl van Niekerk
Dit is onduidelik presies hoe lank dit gaan neem om die skade aan paaie te herstel.
Rademeyerstraat
Motoriste moet daarop let dat Meiringspoort steeds vir verkeer gesluit is terwyl opruimings- en herstelwerk aan die gang is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’