OUDTSHOORN NUUS - 'n Opwindende nuwe herwinningsprojek is Donderdag 5 Desember deur Oudtshoorn-munisipaliteit van stapel gestuur.
Die projek is by Palm Village in samewerking met die munisipale omgewingskantoor, die skoonmaakdienstespan, asook provinsiale rolspelers begin.
Hierdie inisiatief word gesien as 'n voorloper tot die dorp se skoner en groener toekoms. Inwoners van Palm Village is opgewonde om die eerste te wees wat met herwinning begin.
Volgens Aurelia Mle woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit is hierdie 'n vennootskap tussen die Tuinroete-distriks-munisipaliteit, Salga, Polyco, die departe-ment van omgewingsake en beplanning, asook 'n plaaslike herwinningsmaatskappy.
"'n Tweesak-stelsel vir herwinning is nou bekendgestel en sal inwoners by Palm Village die eerstes wees wat hul rommel op die regte manier kan herwin."
'n Swart sak is vir gewone huishoudelike vullis terwyl deurskynende sakke gebruik gaan word vir herwinbare vullis wat onder andere papier, karton, glas en blik insluit.
Mle noem dat die projek oor die volgende vyf maande sal plaasvind en dit ten doel het om die volume vullis wat na die plaaslike stortingsterrein geneem word te verminder.
"Herwinning bevorder volhoubare bestuurspraktyke, asook 'n groener en skoner Oudtshoorn."
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, is in sy noppies oor die projek.
"Ons is trots om 'n stap te neem na 'n groener toekoms. Hierdie herwinningsprojek wys ons toewyding om Oudtshoorn skoon, mooi en omgewingsvriendelik te hou. Ek is dankbaar teenoor die inwoners van Palm Village wat gewillig hierby ingekoop het."
Ian Avontuur, waarnemende direkteur by Oudtshoorn-munisipaliteit beklemtoon dat die projek 'n belangrike stap is oor hoe om vullis te hanteer.
"Dit sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van ons vennote nie. Ons hoop hierdie is 'n aanmoediging vir alle inwoners om hul vullis te herwin."
Ambrose Carelse, omgewingsbeampte, Oudtshoorn-munisipaliteit, noem dat een van die sleuteldoelwitte van hierdie projek is om die lugruim van Oudtshoorn se stortingsterrein te bewaar, terwyl 'n kultuur van volhoubaarheid onder inwoners bevorder word. Daarbenewens ondersoek die munisipaliteit toekomstige ombouingsprojekte en inisiatiewe vir die versameling van elektroniese afval om afvalbestuurspraktyke verder te verbeter.
"Die toetsprojek sal ook die haalbaarheid evalueer om die program na ander gebiede in die munisipaliteit te versprei. Monitering en evaluering sal uitgevoer word om die volume herwinbare goed wat ingesamel word en gemeenskapsbetrokkenheidsvlakke te meet."
Johan Fourie, Oudtshoorn-munisipaliteit raadslid noem ten slotte, "Hierdie is 'n wonderlike geleentheid vir ons gemeenskap om 'n werklike verskil te maak. Ek is trots om te sien hoe Palm Village die pad lei en 'n voorbeeld vir ander stel. Deur saam te werk, kan ons ons dorp skoon hou en vir ons omgewing sorg vir die toekoms."
Wat is geskik vir herwinning?
Papier, plastiek, metaal en glas kan hersirkuleer word. Nie alle huishoudelike afvalprodukte is geskik vir herwinning nie.
Hoe om afval te hersirkuleer
Spoel ui, was en droog enige kos- en drankhouers soos wynbottels, kosblikkies en bierblikke af.
Herwinning van papier en karton
Die volgende tipes papier kan hersirkuleer word: Wit kantoorpapier, tydskrifte en boeke (glanstydskrifte en insetsels wat op glanspapier gedruk is, kan herwin word mits niks gelamineer is nie), koerantpapier en riffelkarton.
Die volgende kan nie hersirkuleer word nie
Geen gelamineerde of wakspapier nie (soos dié wat dikwels gebruik word in bokse wat gebruik word vir tamaties of piesangs) en geen wakspapier riemtoedraaiers nie. Geen tetrapakke nie (vrugtesap en melkhouers wat lyk of dit van papier gemaak is, maar uitgevoer is met foelie en plastiek), ponskonfetti, deurslagpapier en geen plakkers nie.
Herwinning van glas
Die volgende glas kan herwin word: wynbottels, kosbottels (wat gebruik word vir konfyt, mayonnaise, tamatiesous ensovoort), gloeilampe, ruitglas, spieëls en Pyrex, maar behoort apart gehou te word omdat dit van verskillende soorte glas gemaak word.
Nota: Spoel uit en droog bottels af wat die oorblyfsels bevat van kos en drank.
Herwinning van metaal
Aluminium koeldrank- en kosblikkies kan herwin word, maar behoort uitgespoel te word. Dit help as jy ook die papieretiket afhaal en deksels van glashouers.
Herwinning van plastiek
Die volgende plastiekitems kan herwin word: Kos- en drankhouers, harde plastiek soos houers wat gebruik word vir roomys, melk, sap, gebottelde water, koeldrank, botter en margarien.
Huishoudelike skoonmaakmiddels (harde plastiek soos dié wat gebruik word vir skoonmaakmiddels soos Handy Andy, bleikmiddels, opwasmiddels en wasgoed sagmaakmiddels). Plastieksakke (sagte plastiek soos dié wat gebruik word om tydskrifte toe te draai, sespak-bier of pakke toiletpapier). Geen kleefplastiek kan herwin word nie.
Herwinning van elektroniese afval
Elektroniese goedere (byvoorbeeld selfone, rekenaars, of dit werk of nie) en elektriese huishoudelike toestelle (byvoorbeeld yskaste en roosters, of dit werk of nie).
Oudtshoorn-munisipaliteit nooi rolspelers en inwoners uit om die inisiatief te ondersteun.
Geskiedenis van herwinning
Die tegnologie van herwinning is ongeveer 3 000 jaar oud. Glasmakers het glasbottels gesmelt en vervorm sedert hul ambag ontstaan het.
Papier was eenmaal so skaars en duur en word reeds honderde jare herbenut. Afvalmetaal word sedert die laat 1800's hergebruik. Herwinning het in die jare 60 herleef en het die mens al meer begin besef dit is belangrik om natuurlike hulpbronne te bewaar, te herwin en na die omgewing om te sien.
Vandag word herwinning per hand, asook op gesofistikeerde maniere gedoen.
• Vir enige navrae oor die projek kontak Oudtshoorn-munisipaliteit se omgewings-beampte, Ambrose Carelse by 044 203 3982.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’