OUDTSHOORN NUUS - "Ek wil van ons munisipaliteit die beste munisipaliteit maak en ook help om dienslewering in die dorp verbeter."
Dit is maar twee van Walter Hendricks se doelwitte vir die dorp. Hy is amptelik verlede week in die pos as munisipale bestuurder aangestel nadat hy vir 'n geruime tyd waarnemend was.
Hendricks sê een van sy prioriteite is om amptenare wat hulle aan misdaad en oneerlikheid skuldig maak, streng vas te vat en selfs krimineel te laat aankla waar nodig.
"Dit baat nie ons probeer om van die munisipaliteit en dorp 'n beter plek te maak as ons amptenare nie dieselfde doel het nie. Persoonlike aanvalle teenoor my en dit wat ek probeer bereik gaan my ook nie keer nie," het hy gesê.
Volgens hom is hy bewus van die groot hoeveelheid uitdagings wat op hom wag, maar sien hy vir elke liewe een kans.
"Verhoudings bou is belangrik. Dit gaan moeilik wees om die munisipaliteit op 'n nuwe standaard te kry as ek nie verhoudings met inwoners en sakeondernemers bou nie."
Hendricks sê hulle het ook onlangs nuwe senior bestuurders vir die elektriese departement, sowel as die departement strate en stormwater aangestel.
"Dit is mense wat trots is op hulle werk met die regte kwalifikasies. Dit sal help om dienslewering in die dorp te verbeter. Ons het egter ook die gemeenskap se hulp nodig. Dit baat nie ons stel die regte mense aan om byvoorbeeld die straatligte te herstel, maar booswigte breek dit en steel die drade nie. Ons het dus die gemeenskap se hulp nodig om dit wat die munisipaliteit probeer opbou daar te hou en nie te vernietig en te verniel nie. Dit wat ons doen, doen ons immers net vir die gemeenskap."
Chris Macpherson, die uitvoerende burgemeester, sê hy is baie opgewonde oor Hendricks se aanstelling.
"Die feit dat ons 'n permanente munisipale bestuurder het, en iemand soos Hendricks met die regte kwalifikasies en ondervinding, is 'n geweldige bonus vir die munisipaliteit."
Macpherson sê dat Hendricks nie bang is om die regte ding te doen nie.
"Hy is 'n man van integriteit en 'n bemoeienis met die gemeenskap. Hy wil van die dorp 'n beter plek maak en hy wil dit op die regte manier doen. Dit is ook lekker as 'n burgemeester en munisipale bestuurder op dieselfde bladsy is ten opsigte van die vooruitgang van die dorp. Ek en hy gaan gereeld en besoek persoonlik dele in die dorp sodat ons onsself kan vergewis met die situasies en weet waar die probleme is."
Macpherson sê hy wens Hendricks alle sterkte toe in sy pos.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’