OUDTSHOORN NUUS - 'n Wendy-huis en twee voertuie, 'n Nissan Sentra en Mazda Rustler-bakkie, is Dinsdagaand omstreeks 23:45 in 'n brand by 'n woning in Rosebank vernietig.
Volgens die eienaar van die huis, Cameleté Janson, het die Oudtshoorn-polisie hulle net na 00:00 wakker geklop om hulle in kennis te stel dat die Wendy-huis waarin haar ouers, Rachel en Abrahim Moos, woon, besig is om te brand.
Die Moos-egpaar kon betyds uit die Wendy-huis vlug. Sy vertel dat die huisbewoners die twee voertuie wat by die Wendy-huis geparkeer was wou red, maar dat die lede van die Oudtshoorn-polisie hulle gewaarsku het om eerder die erf te verlaat omdat hulle bang was vir 'n ontploffing.
Volgens Janson het die brand op 'n onverklaarbare wyse ontstaan omdat haar ouers nie van kerse gebruik maak nie.
Niemand is in die brand beseer nie. Janson se ouers het egter al hul besitting in die brand verloor.
Enigiemand wat hulle wil bystaan kan Janson by 062 320 1244 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'