Update
OUDTSHOORN NUUS - Die motorfietsryer wat Maandagmiddag omstreeks 17:00 in 'n botsing met 'n vullistrok betrokke was, sterk steeds aan in die George-hospitaal. Ludwig Zeelie (23) is Maandagmiddag in 'n ernstige toestand vanaf Oudtshoorn na George oorgeplaas.
Ludwig Zeelie was Maandagmiddag met Voortrekkerweg onderweg toe 'n munisipale vullistrok wat in die teenoorgestelde rigting gery het, by Buitekantstraat voor die aankomende motorfiets ingedraai het. Die motorfiets het onder die trok beland en Zeelie het die trok met sy kop en lyf getref.
Paramedici het hom op die toneel behandel en gestabiliseer voordat hy hospitaal toe geneem is. Hy is dieselfde middag na George oorgeplaas. Daar was veral kommer oor 'n moontlike kopbesering aangesien sy kop die vragmotor getref het.
Teen Dinsdagmiddag het David Herring, president van die Suid-Kaap Warlocks-motorfietsklub waarvan Zeelie 'n lid is, gesê Zeelie het ligte skedelbreuk en verskeie beserings opgedoen waarvan die ernstigste 'n fraktuur aan sy linkerknie is.
Die ongelukstoneel.
Zeelie se ma, Charmaine, het daarna die beserings bevestig en gesê Zeelie is onder pynverdowing en dat hy 'n operasie vir die knie-fraktuur moes ondergaan. Die operasie, wat vier ure geduur het, is Woensdagaand uitgevoer en teen gister was Zeelie stabiel en kon hy regopsit.
Hy sal na verwagting nog 'n aantal dae in die hospitaal bly om te herstel. Die polisie het bevestig dat 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuur ondersoek word.
Ludwig Zeelie, Woensdagmiddag in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'