Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 19-jarige motorfietsryer wat Saterdagaand in 'n botsing in Langenhovenweg betrokke was, is steeds in 'n kritieke toestand in die waakeenheid in die Mediclinic George.
Jarrod de Jongh was Saterdagaand omstreeks 19:30 met 'n motorfiets in Langenhovenweg op pad huis toe nadat hy klaar gewerk het, toe die bosting plaasgevind het.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het 'n Toyota-bakkie wat in die teenoorgestelde rigting onderweg was, by 'n systraat ingedraai en voor die aankomende motorfiets ingery. Die motorfiets het die bakkie aan die passasierskant getref.
'n Ooggetuie wat by die toneel stilgehou het, het De Jongh te hulp gesnel en aanvanklik gedink hy is noodlottig beseer. Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer en hom per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem.
De Jongh se ma het Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê die mediese hulp wat haar seun by dié hospitaal ontvang het was puik en dokters het dadelik besluit om Jarrod na George oor te plaas. Sy en haar man was nie in Oudtshoorn tydens die botsing nie. "Die munisipaliteit se beheerkamer het ons gebel, want hulle het ons details in die hande gekry nadat die motorfiets se registrasienommer nagegaan is. Ons het dadelik Oudtshoorn toe gekom en ek was nog die hele tyd by Jarrod," het sy Maandag gesê.
Volgens haar het Jarrod frakture aan albei bene, albei arms en sy regterhand opgedoen. Hy het ook skedelbreuk, 'n gebreekte kakebeen, gesigswonde en verskeie ander beserings opgedoen. Hy is in 'n mediese koma geplaas en het Sondag 'n operasie van sewe ure ondergaan. Dit was teen Dinsdag nog nie bekend of hy breinbeserings opgedoen het nie. Sy ma het wel bevestig dat hy steeds in 'n mediese koma was en dat hy Dinsdag 'n operasie aan sy erg beseerde regterhand sou ondergaan.
Jarrod sou gister uit die mediese koma gehaal word sodat toetse gedoen kon word om te bepaal of hy enige breinskade opgedoen het. Volgens 'n kennis van die gesin was Jarrod se toestand gister steeds kritiek, maar stabiel.
Volgens omstanders op die toneel het die bestuurder van die bakkie gesê hy het vir aankomende motors gewag voordat hy gedraai het, maar nie die motorfiets gesien nie. Michaels het bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Die wrak van die motorfiets waar dit tot stilstand gekom het na die botsing.
VORIGE ARTIKELS:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'