Update
OUDTSHOORN NUUS - Die motorfietsryer wat Vrydagmiddag omstreeks 13:00 in 'n botsing met 'n afleweringsbakkie betrokke was, is steeds in George-hospitaal.
Lu-Shane Uithaler (22) is Vrydag in 'n bewustelose toestand per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem en daarna na George oorgeplaas.
Hy was met sy bromponie in St. Georgesstraat onderweg toe hy skynbaar nie besef het daar is 'n stopstraat by die kruising met St. Johnstraat nie.
'n Afleweringsbakkie van 'n groentehandelaar was met St. Johnstraat onderweg toe die motorfiets dit aan die bestuurderskant getref het.
Volgens die bestuurder van die bakkie het hy die motorfiets gesien toe dit reg langs hom uit die systraat kom en sy bakkie tref.
"Ek het my kop hard teen die deur gestamp en het net daaraan gedink dat ek moet stop sonder om 'n ander voertuig te tref."
Die botsing is deur 'n sekerheidskamera van 'n besigheid by die kruising vasgevang. Werknemers van die onderneming het uitgehardloop en die beseerde Uithaler in die middel van die pad aangetref. Hy was nie by sy bewussyn nie en lede van Oudtshoorn-brandweer was kort daarna op die toneel.
Omstanders en die persone wat die nooddienste ontbied het, was ontevrede omdat die ambulans glo eers 35 minute na die botsing by die toneel opgedaag het. Deanna Bessick, kommunikasiebeampte van die provinsiale nooddiens, EMS, het egter by navraag gesê volgens hulle rekord is die oproep om 14:18 geregistreer en die ambulans was volgens hulle rekords om 14:21 op die toneel.
Uithaler se ma, Elizabeth, het hierdie week bevestig dat haar seun met veelvuldige beserings in die hospitaal opgeneem is en waarskynlik 'n aantal operasies moet ondergaan. Sy kon egter nie sê presies wat die aard van sy beserings is nie omdat hulle hom nog nie in die hospitaal kon besoek nie. Sy het wel bevestig dat hy teen Saterdagoggend sy bewussyn herwin het en met mense kon praat.
Volgens haar woon hulle ongeveer 26 kilometer buite Oudtshoorn in die rigting van Calitzdorp en gebruik Lu-Shane daagliks sy bromponie om van die huis af werk toe en terug te ry. Hy is 'n werknemer by Klein Karoo International.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'