OUDTSHOORN NUUS - Motordiewe het sedert die naweek letterlik op Oudtshoorn toegeslaan.
'n Toyota Hilux is oor die naweek in Jan van Riebeeckweg gesteel en Dinsdagaand is drie voertuie in Wesbank gesteel. Daar was ook 'n poging om nog twee voertuie in Jan van Riebeeckweg te steel, maar die diewe het het laat spaander toe die eienaars in die huis begin beweeg.
Vier verdagtes is reeds Woensdag in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Die drie voorvalle van diefstal Dinsdagaand was in Ellystraat (Hyundai H100), Buitekantstraat (Toyota sedan) en Jan van Riebeeckweg (Isuzu bakkie).
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het Woensdag bevestig dat die verdagtes naby Peddie in die Oos-Kaap aangekeer is.
"Die mans het na bewering 'n Volkswagen Polo gehuur om uit die Oos-Kaap na Oudtshoorn te reis. Dit is ook die voertuig wat hulle as die ontvlugtingsmotor gebruik het."
Visser sê die polisie het twee van die vermeende diewe aangekeer na hulle in 'n ongeluk met die Polo in Pedi betrokke was. Die ander twee is ook na 'n ongeluk met die gesteelde Isuzu bakkie aangekeer. Visser kon nie bevestig of die diefstalle met mekaar verband hou nie.
Kaptein Mariaan Vos, bevelvoerder van Oudtshoorn se motordiefstaleenheid sê inwoners moet waaksaam wees en hul voertuie op veilige plekke parkeer.
Hy het wel bevestig dat drie van die gesteelde voertuie gevind is, maar dat die Toyota bakkie wat verlede naweek gesteel is nog nie gevind is nie.
Anneline Botha, by wie se huis die poging tot diefstal was, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat sy vroeër Dinsdagaand die honde buite hoor blaf het.
"Ek het gaan kyk en 'n motor wat verby ry opgemerk, maar op daardie stadium nie veel daarvan gedink nie. Later die nag het die honde weer geblaf. Die motors staan voor my ma se slaapkamer, toe sy die gordyn ooptrek toe staan en kyk die man reguit vir haar. Toe sy skree het ons gaan kyk wat aangaan."
Botha sê die diewe het laat spaander toe hulle besef die mense in die huis is wakker. Hulle het hul ontvlugtingsmotor 'n entjie in die pad af parkeer en daarmee weggery. Sy sê die skelms het die veiligheidshek se elektroniese motor oopgebreek, die hek oopgeskuif en die motors probeer steel.
Volgens haar het hulle by haar en haar ma se motor ingebreek en toe hulle buite kom was haar motor reeds halfpad by die hek uitgestoot.
"Hulle het geld uit my ma se kar gesteel. Die mense het voorbereid met al die nodige hulpmiddels gekom. Hulle breek die voertuig oop en stoot hom uit met die hoop dat die mense binne nie hoor nie."
Kaptein Mariaan Vos, bevelvoerder van Oudtshoorn se motordiefstaleenheid sê inwoners moet waaksaam wees en hul voertuie op veilige plekke parkeer.
"Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om die waardevolle items in voertuie te los nie en ook seker te maak dat die voertuie veilig is. Ons vra ook die gemeenskap om verdagte persone en voertuie by die polisie of die voertuigdiefstaleenheid aan te meld."
Sy het verder gesê dat dat inwoners ingedagte moet hou dat die versekering nie gaan uitbetaal indien die diefstal van die voertuig of uit die voertuig weens nalatigheid was nie.
Die polisie se voertuigdiefstaleenheid kan by 082 522 2720 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'