Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 47-jarige motorfietsryer, Gertjie Thysse, wat Sondagmiddag in 'n botsing naby die Robinsonpas betrokke was het gisteroggend vir die eerste keer sy oë oopgemaak nadat hy sedert Sondag onder verdowing in die hoësorgeenheid van die George Mediclinic was.
Sy broer, Corne, het gisteroggend omstreeks 09:30 laat weet dat dokters Thysse se verdowingsmedikasie sedert Woensdag geleidelik verminder het.
"Gertjie is by. Sy oë is oop, maar hy kan nog nie praat nie, want daar is masjiene aan sy mond gekoppel.
Hy lyk deurmekaar en verward, maar as alles goed verloop sal hulle môre die masjiene op sy mond ontkoppel dan sal ons sien of hy al kan praat," het hy Corné gesê.
Gertjie se vrou, Hanlie, het gisteroggend bevestig dat Thysse reeds twee operasies aan sy been ondergaan het en dat die dokters tevrede is met die sukses van die operasies.
Sy been is op drie plekke gebreek tydens die botsing. Hy het ook 'n kopbesering opgedoen en dit is die volgende prioriteit nadat hy sy bewussyn herwin het.
Brandweerpersoneel blus die vlamme nadat die motorfiets aan die brand geslaan het.
Thysse was deel van 'n motorfietsgroep wat Sondag aan 'n liefdadigheidsrit ten bate van Kansa na Mosselbaai, deelgeneem het.
Die groep was op die terugrit na Oudtshoorn onderweg toe Thysse aan die onderpunt van die Robinsonpas aan Oudtshoorn se kant, beheer oor sy 1000cc BMW RR-motorfiets verloor het.
Die motorfiets het die veiligheidsreling getref, onderdeur gegly en in vlamme uitgebars.
Thysse is van die motorfiets afgeslinger en het ongeveer 20 m verder op die padoppervlak te lande gekom.
'n Dokter van Mosselbaai, Gert Bezuidenhout, het op die toneel afgekom en Thysse behandel totdat paramedici opgedaag het. Hy het by hom gebly totdat hy deur die noodhelikopter na George geneem is.
Volgens 'n ryer wat agter Thysse gery het, het die motorfiets se agterwiel begin swaai toe Thysse in 'n draai ingegaan het waarna dit gegly het en die veiligheidreling getref het.
Lees 'n vorige artikel: Motorfietsryer ernstig beseer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'