OUDTSHOORN NUUS - Skaars sewe maande nadat Chad Louw die jongste burgemeester in die land geword het, hang daar 'n gewigte swaard oor sy kop nadat PA-raadslid Suzane Jansen en Advieskantoor-raadslid, Leon Campher, verlede week 'n dringende mosie van wantroue teen hom ingedien het.
Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, het bevestig dat die volgende spesiale raadsvergadering 29 Junie om 10:00 sal wees.
Die agenda maak egter nie melding van enige mosies nie.
Die motivering vir die mosie teen Louw is as volg:
- Versuim om politieke leierskap te verskaf.
- Versuim om beweerde bedrog van
- R3 miljoen aan die raad te rapporteer.
- Versuim om dienslewerinsgkwessies te adresseer.
- Versuim om maatreëls in te stel om voortdurende oorstromings van wonings te voorkom.
Daar is ook ongelukkigheid oor begrotingsgelde wat nie op onder meer die Bridgton-swembad, die De Jager-sportkompleks en die Bongolethu-sportstadion spandeer is nie.
Indien hierdie mosie deur die DA en sy vennote ondersteun word sal dit die einde van Louw se termyn as eerste burger beteken. Dit sal ook te weeg bring dat die ANC vir die eerste keer sedert verlede jaar se verkiesing, in die opposisiebank kan sit.
ANC onder druk:
Om die kersie op die koek te sit, is die toekoms van die ANC as beherende koalisie in elk geval ook in die weegskaal sodra die Onafhanklike Verkiesings-komitee (OVK) binnekort die nuwe raadslid van Suid-Kaap Saamstaan aanwys.
Mlandeli Nuyka van Saamstaan is onlangs sy setel kwyt nadat sy lidmaatskap op 6 April vanjaar deur sy party beëindig is. Nuyka, wat glo volgens bronne in die Saamstaan-party besluite op eie houtjie gemaak het, se voorkeur was om hom by die ANC-alliansie te skaar.
Dus is die moontlikheid groot dat die nuwe Saamstaan-raadslid hom of haar by enige alliansie kan aansluit, mits die regte geluide in terme van posisie en beleide natuurlik gemaak word. Met Nuyka se vakante posisie nog nie gevul nie, bestaan die ANC-koalisie tans uit 12 lede ( 8 ANC, 1 PA, 1 Advieskantoor, 1 OGI en 1 Good). Die DA-alliansie bestaan ook tans uit 12 ( 7-DA , VFP-3, Icosa-2 (nie-amptelik).
Met die PA en Advieskantoor se vars mosie teen hul eie alliansievennote blyk dit asof die ANC op die stadium onder enorme druk verkeer om aan bewind te bly.
Cameron Dugmore:
Intussen het die ANC se Wes-Kaapse parle-mentslid, Cameron Dugmore, in reaksie op die mosie van wantroue teen Louw gesê dat dit neerkom op agterbakse gedrag van beide die PA en Advieskantoor.
"Hierdie mosie van wantroue is heeltemal teenstrydig met die nuwe koalisie-ooreenkoms wat ons verlede maand onderteken het. Ons is baie bekommerd dat hierdie aangeleentheid nooit in die koalisiebestuurskomitee bespreek is nie. Ons sal hierdie oortreding, wat ons as baie ernstig beskou, by die volgende vergadering van die koalisiebestuurskomitee bepreek. Ons provinsiale leierskap sal ook die gedrag van die PA-raadslid ter sprake aan haar nasionale leierskap rapporteer."
Dugmore het gesê dat die doel van die koalisie is om die gemeenskap te dien en om die gebrek aan dienslewering en korrupsie van die DA ongedaan te maak.
"Sulke tipe optrede ondermyn die einste doelwit van die koalisie," het hy in sy verklaring gesê.
Cameron Dugmore
Links is PA-raadslid Suzane Jansen saam met Advieskantoor-raadslid, Leon Campher. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'