OUDTSHOORN NUUS - 'n Unieke mosaïekwerk is besig om teeltjie vir teeltjie vorm aan te neem by Scrosoppi-sorgsentrum in Oudtshoorn onder leiding van bekende Nederlandse beeldende kunstenaar, Brigitta Santegoeds.
Harriet Marais, van Global Serving Hands, is genader deur Santegoeds om 'n gemeenskapskunsprojek in Suid-Afrika te kom doen.
Marais is betrokke by Global Serving Hands, 'n kleinskaalse Nederlandse, nie-winsgewende organisasie wat dit moontlik maak vir jongmense om 'n unieke ervaring op te doen as 'n vrywilliger in onderwys, natuur of gesondheidsorg in Suid-Afrika, of om op 'n sendingreis te gaan. Die organisasie is al 'n geruime tyd betrokke by Scrosoppi-sorgsentrum en daar is tans 'n paar studente van Nederland en Duitsland. Jette Müller van Duitsland help uit ook met die kunswerk.
Kuns uit Nederland
"My kuns wys hoe ek voel en waarvan ek droom. Die behoefte om iets uit te druk sonder om woorde te hê, waaruit kleure, vorms en stories spruit. Ek is nou betrokke by gemeenskapsprojekte in Nederland en het die geleentheid aangegryp om Oudtshoorn te besoek nadat Harriet my van Scrosoppi en Global Serving Hands se werk vertel het," vertel Sandegoeds.
Meer as net stukkies glas
Die groepie is druk besig om mosaïekwerk te doen op 'n muurskildery by Scrosoppi wat Sandegoeds geskilder het. Die kunswerk pryk bo 'n spesiale gedenksteen wat lees: 'Ter ere van die heilige onskuldige kindertjies van Bethlehem en alle kindertjies binne en buite die moederskoot vermoor.'
Santegoeds vertel" "Ek skilder al sedert 2005 bome. Bome verteenwoordig mense vir my, mense wat hul takke na ander uitstrek. Ek herken bome in mense en mense in bome, hoe hulle loop, hul gesindheid, hul trots. Die muurskildery vertel 'n spesiale storie."
Die rooi boom waarmee sy tans besig is, stel vroue voor, met takke wat uitreik na ander. "Die ligkleurige tak verteenwoordig vroue wat sukkel en uitreik vir hulp."
Die blomme en voëls, asook natuurtoneel is verteenwoordig van die omgewing. "Een blom is spesifiek blou en geel om te fokus op alzheimersiekte, in Nederland is dit die kleure vir bewusmaking rondom die siekte en het ek dit goedgedink om dit hier uit te beeld aangesien dit wêreldwye bewusmaking benodig."
Die vrolike son verteenwoordig hoop in swaar tye, en die hoenders is daar om die kinders te herinner dat hul altyd kan uitreik na ander vir hulp, advies en samesyn.
Scrosoppi-sorgsentrum
Die sentrum is 'n ondersteuningsprojek vir kinders en jongmense uit die armste woonbuurte van Bridgton in Oudtshoorn. Hulle bied die kinders 'n veilige omgewing waar hulle nie net 'n ete kry nie, maar ook lewensvaardighede aanleer om hulself so positief as moontlik te ontwikkel.
Die sentrum bied dagsorg vir 50 kinders tot 6 jaar oud met FAS (fetale alkoholsindroom). Dan is daar ook naskoolse sorg vir laer- en hoërskoolleerlinge.
Vir hoërskoolleerlinge is die grootste uitdaging om die skool te verlaat met 'n diploma te midde van armoede en hoë werkloosheid. Hulle word gemotiveer om 'n toekomsvisie te kry en om beroepsopleiding te volg om die sirkel van werkloosheid en armoede te breek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’