OUDTSHOORN NUUS - Die 18-jarige Niven Donley, wat aangekla word van moord is Vrydagoggend op borgtog van R500 vrygelaat. Donley word aangekla van die moord op Franklin Lukas, 'n 18-jarige gr. 11-skoolleerder.
Donley is Sondagoggend 5 Julie omstreeks 04:45 in hegtenis geneem nadat hy Lukas die vorige aand omstreeks 22:00 in Rosehillstraat in Rosebank met 'n mes gesteek het.
Volgens die staatsaanklaer was daar drie ooggetuies en een van hulle het glo die hele voorval gesien. Volgens die persoon het Donley, wat 'n mes by hom gehad het, Lukas gekonfronteer waarna Donley se vriende Lukas met klippe gegooi het. Hy het weggehardloop en is toe deur Donley met die mes gesteek.
Hy het in die straat inmekaargesak en is minute later dood.
Donley het aangedui dat hy onskuldig gaan pleit op die aanklag van moord. Volgens sy verklaring wat in die hof voorgelees is, het hy en vriende op die straathoek gesit en drink toe Lukas hom genader het.
Volgens hom wou Lukas se vriende hóm met klippe en 'n graaf aanval. Hy het toe sy mes uitgehaal om homself te verdedig. Hy onthou dat hy na Lukas gesteek het, maar het glo eers later gehoor dat hy dood is.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie. Die hof het borgtog van R500 toegestaan, wat deur Donley se ma betaal is. Hy mag op geen manier met die drie getuies kontak maak nie en sal tot met die afhandeling van die saak by sy ouma in 'n ander woonbuurt woon.
Die saak word vir verdere ondersoek uitgestel en op 17 Augustus hervat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'