OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die twee verdagtes wat van moord op 'n 19-jarige matrikulant van Oudtshoorn aangekla word, is onlangs in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van 'n patoloog vir uitspraak uitgestel.
Dr. Mariette Hurst, wat die nadoodse ondersoek op Angelo Manewille uitgevoer het, het getuig dat sy drie uitwendige beserings aan sy liggaam gevind het waarvan die steekwond in sy nek noodlottig was.
Hy is ook in sy rug gesteek terwyl daar 'n oppervlakkige wond aan een van sy arms was.
Richard Manel (40) en Shaun Nagel (39) word daarvan aangekla dat hulle op Saterdag 28 Julie 2018 vir Manewille in Springbokweg, Bridgton, vermoor het.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, wou van die dokter weet of sy enige ander beserings kon waarneem na aanleiding van getuienis voor die hof dat die oorledene glo vroeër die betrokke dag met die vuis geslaan, geskop, op sy kop getrap en met 'n gebreekte bottel gekap is.
Sy het geantwoord dat die enigste beserings deur 'n mes toegedien is.
Op 'n vraag van die hof waar die bloed aan die oorledene se mond vandaan sou kom het sy geantwoord dat dit miskien van die steekwond in die nek gekom het.
Manel en Nagel het borgtog van R1 000 elk gekry op voorwaarde dat hulle drie dae per week by die Bridgton-polisiestasie aanmeld, nie kontak maak met staatsgetuies nie en nie by misdaad betrokke raak nie tot die saak afgehandel is.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en is vir uitspraak tot 26 Augustus uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'