OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man van Hazenjacht naby Dysselsdorp wat tereg staan op ’n klagte van moord en daarop aangedring het dat die hof twee assessore vir sy verhoor aanstel, is in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van ‘n dokter en ‘n polisiebeampte tot volgende maand uitgestel.
Andrew Blaauw (27) word van moord op die 17-jarige Gershwin Olivier, op 6 November 2020, aangekla. Hy ontken skuld.
Volgens Blaauw se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, sal sy klient getuig dat hy die betrokke aand uit selfverdediging opgetree het toe Williams hom aangeval het en ook dat daar ander mense was met wapens soos grawe en tuinvurke.
Die bebloede klere wat in sy huis gevind is, behoort ook nie aan hom nie, sal hy getuig.
Volgens konst. Patrick Jaftha het hy ná die moord na Blaauw se woning gegaan en beslag gelê op bebloede klere wat die beskuldigde glo die aand aangehad en daarna uittrek het.
Blaauw het hom meegedeel dat hy niks van die moord weet nie, maar dat sy broer, Jeandre Blaauw, hom die huis ingeneem het en hom die bebloede klere gewys het.
Dr Mariette Hurst wat die nadoodse ondersoek op Olivier gedoen het, het getuig dat hy gesterf het aan ‘n steekwond in sy nek.asook twee steekwonde in sy rug.
Al die wonde was volgens haar vars wonde. Volgens Hurst kon die wonde nie met ‘n graaf of tuinvurk soos wat die beskuldigde voorgee,, toegedien kon geword het nie.
Blaauw se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat hy wel sal getuig, maar uitstel gevra vir verdere konsultasie na die getuienis van die dokter en die polisiebeampte.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni, wat deur twee assessore, Gladys George en Kenneth Grootboom, bygestaan word en is vir voortsetting tot 2 Februarie 2023 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'