OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n man wat daarvan aangekla word dat hy Kersaand 2016 'n jong man in die Face da Bass-nagklub op Oudtshoorn doodgesteek het, het verlede week uiteindelik in die Oudtshoorn-streekhof begin.
Alfonso Malgas (24) staan tereg op aanklag van moord na die dood van die 19-jarige Adrian Oliphant. Hy pleit onskuldig.
Malgas se regsverteenwoordiger, Vaughen Shone, het tydens kruisondervraging van Owen Agulhas, 'n staatsgetuie, gesê Malgas sal getuig dat hy deur 'n groep vriende van Oliphant aangeval en uit selfverdediging blindelings na hulle gesteek het.
Hy is nie seker of hy enigeen raak gesteek het nie. Hy sal ook getuig dat die broer van die nagklubeienaar hom met 'n oop mes gedreig het dat hy hom sal doodmaak.
Volgens Agulhas het die oorledene 'n glas na die beskuldigde gegooi waarna hy toe met 'n mes gesteek is.
Die oorledene het nie 'n wapen by hom gehad nie. Agulhas het voorts getuig dat hy nie geweet het of die nagklubeienaar naby was nie.
"Alles het so vinnig gebeur. Daar was baie mense in 'n klein area en die sekuriteitsbeampte was ook nie daar waar die voorval plaasgevind het nie."
Volgens Shone sal Malgas getuig dat hy moes steek "om homself te red".
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en word op 9 Julie voortgesit.
Klik hier vir vorige artikels:
- Borgtog vir moordverdagte
- Opvolg: 18-jarige doodgesteek
- 2 mans tydens Kersfees wreed vermoor
- Twee voor Kersfees vermoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'