OUDTSHOORN NUUS - Verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof geweier aan 'n man wat aan moord skuldig bevind en 15 jaar gevangenisstraf opgelê is.
Melvin Stander (55) wat vir langer as twee jaar in aanhouding was voordat hy op 23 Oktober 2017 gevonnis is, is daaraan skuldig bevind dat hy op Oukersaand 2014 'n 26-jarige man van Riemvasmaak, Franky Oliphant, doodgeskiet het.
Sy verweer tydens die hofsaak dat hy nie die betrokke dag op Oudtshoorn was nie, maar op Matjiesrivier, is as vals verwerp omdat hy deur ooggetuies op die toneel geplaas is.
Stander se aansoek is deur streeklanddros Daniël Boks van die hand gewys omdat hy van mening is dat daar geen vooruitsigte is dat 'n ander hof tot 'n ander bevinding sal kom nie.
Die vonnis van 15 jaar is nie onvanpas hoog nie omdat geen wesenlike en dwingende omstandighede voor die hof gebring is om 'n ligter vonnis op te lê nie.
Die hof het ten spyte van die feit dat die aansoek laat ingedien is, dit aangehoor omdat gevangenes, volgens die landdros, dikwels probleme ondervind om aansoeke betyds in te dien.
Hulle beskik dikwels nie oor die fondse om 'n advokaat aan te stel nie, en moet dan hul eie aansoeke voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'