DYSSELSDORP NUUS - 'n Man van Dysselsdorp wat sy saamleefmaat doodgesteek het en aan strafbare manslag skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Die 48-jarige Hendrik Mars het tereggestaan op aanklag van moord op die 35-jarige Sarie August, die ma van twee van sy kinders van onderskeidelik 16 en 11 jaar.
Hy het egter onskuldig gepleit op die moordklagte omdat hy nie bedoel het om August dood te maak nie.
Volgens Mars was hy en August die betrokke aand in 'n woordewisseling oor geld nadat hulle die betrokke dag saam 5 liter-wyn uitgedrink het.
Sy het volgens hom uit 'n dronkslaap wakker geword, sy geld gevat en gaan uitgee. Met haar terugkoms het hy haar oor hul "kosgeld" gekonfronteer.
August het volgens hom toe 'n mes in die kombuis gaan haal waarmee sy hom wou steek.
"Ek het die mes gegryp en haar eenkeer in die bors gesteek."
Volgens Mars het hy nie gedink dit was ernstig nie omdat hy nie enige bloed gesien het nie en eers die volgende oggend die ambulans gebel. Hy het erken dat hy nie homself verdedig het nie en alhoewel hy dronk was hy geweet het wat hy doen.
Hy het erken dat hy nalatig was, maar nie bedoel het om die vrou dood te maak nie.
Staatsaanklaer Hyron Goulding, het vir tronkstraf van minstens agt jaar gevra omdat Mars vier vorige soortgelyke vorige veroordelings op sy naam het, en vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking gehad het nie.
Hy het ook nooit enige berou getoon of 'n brief aan die oorledene se moeder geskryf om te sê hy is jammer nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê sy kry die indruk dat dit niks snaaks is vir mense in verhoudings om skerp voorwerpe te gebruik om probleempies op te los nie.
"En dikwels is dit die kinders wat dan daaronder ly. Dit het ook 'n negatiewe impak op die ekonomie van die land omdat die staat nou na die kinders moet omsien."
Dit is volgens haar ook hartseer dat mense daagliks protesteer oor dienslewering, maar nooit teen drankmisbruik, dwelms en moorde nie.
"Wat ook al die vonnis sal dit nie die oorledene terugbring nie," het die landdros afgesluit.
Mars is tot agt jaar tronkstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'