OUDTSHOORN NUUS - Polisiebeamptes is tans besig met 'n ondersoek rakende die dood van 'n 21-jarige vrou, Almay Hurling, wat Maandagmiddag omstreeks 15:40 in Bridgton plaasgevind het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is Oudtshoorn-polisie ontbied nadat 'n lid van die publiek op die toneel afgekom het.
"Met hulle aankoms is Hurling se liggaam met veelvuldige steekwonde gevind. Paramedici het die slagoffer op die toneel dood verklaar."
Spies sê dat misdaadtoneelkenners die toneel vir leidrade gefynkam het.
"'n Moorddossier is geopen. Die motief vir die moord is nog onbekend. Die verdagte/s is steeds op vrye voet. Die ondersoek is in 'n baie vroeë stadium," sê Spies.
Ondersoekbeampte ao. Morné Janse van Rensburg, kan by 044 203 9002 of 083 706 9771 geskakel word indien enige lid van die publiek inligting het wat kan lei tot die arrestasie van die oortreders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’