OUDTSHOORN NUUS - Die 16-jarige Haily Pietersen, 'n gr. 11- leerder van Aurial Kollege, het onlangs 'n groot mylpaal bereik toe sy deur Twenty Model Management in hul Ten Artists Modeling-afdeling as model opgeneem is.
Hierdie agentskap is 'n internasionale modelagentskap gestig deur oudmodel Robin Fryer. Hul hoofkantoor is in Woodstock, Kaapstad, en Haily is nou deel van dié eksklusiewe groep.
Volgens Haily het haar belangstelling in modelwerk reeds op 'n jong ouderdom begin. Sy het gereeld aan fotosessies deelgeneem, en haar loopbaan het behoorlik momentum gekry toe 'n fotograaf haar potensiaal raakgesien en haar gehelp het om 'n professionele portefeulje saam te stel. Hierdie portefeulje is toe aan Twenty Model Management gestuur.
"Ek het my onderhoud in Woodstock gehad in die eerste week van die vakansie," vertel sy. "Hulle het daardie dag my eerste foto's geneem en ek het later dieselfde dag bevestiging ontvang dat ek aanvaar is. Ek het 'n paar dae later my kontrak onderteken, dit was ongelooflik!"
Volgens haar is haar ma, Zadrian, haar groot steunpilaar.
"Sy is 'n enkelouer en het gehelp om my droom 'n realiteit te maak. Sy het my nog altyd ondersteun en staan my by in alles wat ek aanpak."
Haily sal haar modelloopbaan op kommersiële en redaksionele werk fokus. Buiten modelwerk, is sy ook passievol oor mode-ontwerp, grimering en kuns.
Haar oom, Jason Pietersen, was Aurial Kollege se eerste hoofseun in 2012. Haily noem dat sy haar tweelingboetie, Ethan, probeer oortuig om ook by modelwerk betrokke te raak.
Karen Alexander, hoof van Aurial Kollege, en Romano Claassen, Haily se Afrikaans-onderwyser, is albei vol lof vir haar prestasie. "Nie net presteer Haily akademies uitstekend nie, maar sy is ook betrokke by die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) en neem deel aan verskeie skoolaktiwiteite. Ons is ongelooflik trots op haar en weet sy gaan nog baie bereik," sê Alexander.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’