OUDTSHOORN NUUS - Die Lulu en André van Greunen-sopkombuis en nasorgsentrum in Oudts-hoorn, het Sondag 'n baie suksesvolle Moedersdagtee in die Gospel Revelation Kerk aangebied en die sopkombuis se derde verjaarsdag gevier.
Die sopkombuis se leuse is, "Gee julle vir hulle iets om te eet."
Die sopkombuis is met Covid in 2020 in dié kerk begin.
Die dag is volgens Philip Seroux, stigter van die sopkombuis en nasorgsentrum, baie goed ondersteun deur die sentrum se senior burger-klub en kan toegeskryf word aan die goeie samewerking van die gemeenskap.
Die tema vir die dag was na aanleiding van Spreuke 30:29 wat lui, "Baie vroue het hul knap gedra, maar jy oortref hulle."
Volgens Seroux bestaan die bejaardeklub tans uit 60 senior burgers van die omgewing wat elke dag 'n warm bord gekookte kos by die sentrum kry.
Dan is daar sowat 35 kinders wat elke middag onder toesig hul tuiswerk by die sentrum kom doen.
Die sentrum beskik ook oor 'n paar rekenaars wat 'n vriend geskenk het, sodat die kinders dit vir take kan gebruik.
"Ons doelwit is om binnekort 'n volwaardige rekenaarsentrum te open wat ook deur die gemeenskap gebruik kan word."
Seroux het sy dank teenoor Shoprite, wat elke Saterdag 300 liter sop en 50 brode aan die sentrum skenk uitgespreek, asook aan ander sopkombuise in Bridgton.
"Danksy die hulp van ons donateurs is ons ook in staat en bevoorreg om elke Dinsdag en Donderdag by die Sassa-kantore 'n koppie sop en 'n broodjie te kan uitdeel vir mense wat van soggens vroeg sit en wag om gehelp te word.
"Ons reik ook Saterdagaande uit na die plaaslike hospitaal se ongevalle-afdeling waar veral plaasmense en beseerdes soms lang ure moet wag om gehelp te word."
Die sentrum is, volgens Seroux, ook bevoorreg om werk te verskaf aan 'n kantoordame, Ernestine Jansen, 'n terrein- en motorbestuurder, Derick Rhode, 'n kok, Elsie Botes en 'n sentrumvoorsitter, John Parish Maxwell.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat die sopkombuis al vir drie jaar ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’