Update
OUDTSHOORN NUUS - "Sy was enig in haar soort - uniek. Daar sal nooit weer iemand soos sy wees nie."
Dit is hoe Donelle Fortuin (27) se broer, Dayne Fortuin, haar die week beskryf het.
Donelle is Saterdagoggend in 'n ongeluk in die Huisrivierpas op die R62 tussen Ladismith en Calitzdorp, dood. Volgens Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, het sy waarskynlik beheer oor die BMW 318i verloor waarna sy van die pad af gery het en teen die pas af gerol het. Sy is opslag dood.
Sy was onderweg van die Kaap waar sy gewerk het na haar ouerhuis op Oudtshoorn.
Fortuin sê sy suster het 'n passie vir haar werk gehad.
"Haar droom was om 'n modeontwerper te wees. Sy het haar eie klerereeks, ODON, gehad en sy het klere spesifiek volgens die kliënt se belangstelling gemaak. Sy het 'n goeie oog vir nuwe modes gehad en het klere ontwerp vir enige vrou en vir enige geleentheid."
Sy het in 2015 haar graad in modeontwerp by CPUT voltooi en het in April vanjaar by die Foschini-groep (TFG) begin werk.
"Die werk het sy geweldig baie geniet omdat dit vir haar 'n uitdaging was en omdat sy presies geweet het wat nou in die mode is."
Volgens hom het sy 'n ODON-studio in die Kaap en ook in Oudtshoorn gehad.
"Haar kliënte was vir haar belangrik. Haar hardwerkendheid was iets om te bewonder. Sy het tot laat in die aand gewerk en weer vroeg opgestaan. Sy was 'n gedrewe persoon en het presies geweet wat sy in die lewe wil hê."
Donelle het in haar kort loopbaan verskeie prestasies behaal. Sy was in 2016 onder die top-10 van die Young Designers by die SA Fashion Week en sy is ook gekies as 'n ontwerper vir die Mercedes Benz International Film Festival.
Sy word oorleef deur haar broer en haar ouers, Edmund en Marjorie Fortuin.
Die begrafnis vind plaas op Saterdag. Dit begin 10:00 met 'n diens by hul huis in Buitekantstraat 250 waarna daar 'n kerkdiens om 11:00 by die United Congregational Church (UCC) in Jonesstraat sal wees.
Die wrak van die BMW in die Huisrivierpas. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'