OUDTSHOORN NUUS - Inwoners in die Blackjoint-woonbuurt in Oudtshoorn het Dinsdagoggend, 9 Julie, 'n vreedsame protesaksie begin.
Volgens gemeenskapsleier, Jolin Loggenberg, is inwoners moedeloos oor die dienslewering wat hul vanaf die diensteverskaffer ontvang rakende die instandhouding van mobiele toilette in die woonbuurt.
Oudtshoorn Courant het Dinsdagoggend die woonbuurt besoek waar inwoners ongedienste toilette aan die koerant uitgewys het.
Christine Raubenheimer, 'n inwoner met gestremdhede, het haar kommer uitgespreek oor algemene gesondheidstoestande waarmee hulle moet saamleef.
My kinders raak siek en het 'n veluitslag, ek gebruik emmers water om dit skoon te probeer hou.
Die groep inwoners het 'n petisie geteken wat hulle aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gaan oorhandig.
Volgens Loggenberg sloer hul klagtes na bewering sedert 2021, en is hulle moedeloos, asook keelvol vir die situasie. Die twis, asook versoeke dat die diensteverskaffer vervang moet word, duur al 'n geruime tyd, en is Loggenberg van mening dat hulle klagtes geïgnoreer word.
Aurelia Mle, mediawoordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het gesê: "Bidvest het die tender gekry nadat Toploose onttrek het, en die munisipaliteit dit aanvaar het. Personeel van die munisipale behuisingsafdeling het Maandag 8 Julie in gesprek getree met die inwoners van Blackjoint, dit was egter 'n klein groepie, waarvan sommige vorige werknemers van Bidvest was."
Lauren Jones, bestuurder van behuising van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het self met die inwoners gepraat, asook die wyksraadslid, Zoe Tyatya.
"Ons het kennis geneem van hul misnoeë, en hul gevra om die munisipaliteit van hulp te wees indien dienslewering nie op standaard is nie. Die munisipaliteit versoek inwoners om toe te laat dat Bidvest hul dienste lewer, en indien dienslewering ontbreek, dit aan te meld."
Teen saktyd het Oudtshoorn Courant nog gewag op kommentaar vanaf Bidvest rakende die kwessie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’