Video Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Dit was 'n bloedige Valentynsdag vir 'n aantal honde in Oudtshoorn wat daadwerklik tot 'n besluit gelei het om dieremishandeling in Oudtshoorn bloot te stel en hok te slaan.
Die Oudtshoorn Courant het gisteroggend vroeg 'n oproep ontvang oor 'n hond wat in 'n stormwaterpyp gegooi is. Met aankoms op die toneel was die hond reeds dood.
Volgens 'n persoon wat op die toneel was, maar wat anoniem wil bly, moes die munisipale werkers wat die hond uit die drein gehaal het, kalk oor die hond gooi om die reuk te verbloem.
"Dit was 'n afskuwelike ding om te aanskou. Ek kan nie dink dat mense so wreed kan wees nie. Daar is duidelik onlangs met die hond baklei, want daar was merke aan sy nek en vars bloed wat by sy neus uitgekom het."
Colleen Smith, voorsitter van Odin (Oudtshoorn Dogs in Need), en Magda Davel, skutmeester van die munisipale skut, was ook op die toneel.
Smith sê sy is nie seker van die ras van die hond nie, maar dit is 'n moontlik 'n vegtersras gekruis met 'n Jack Russell. Sy was dit eens dat die hond onlangs in 'n geveg met 'n ander hond betrokke was.
Terwyl hulle op die toneel besig was, is 'n oproep ontvang dat twee honde met 'n mes in Gumtreestraat gesteek is. Die eienaar van die honde, Sergio Oktober, was in trane met die aankoms van die koerant en die span van die skut. Volgens hom was daar 'n argument tussen hom en 'n ander man.
Kyk 'n video hieronder.
"Ek het by die kafee gestaan toe die man met my kom moeilikheid soek. Hy wou my met 'n mes steek. Ek het weggekom en het huis toe gehardloop. Ek wou 'n mes uit die laai haal om myself te verdedig en met die wat ek my rug draai het die man van agter na my gesteek. Beertjie, my hond, het gespring om my te probeer verdedig en toe steek die man my hond dood."
Beertjie is in Gumtreestraat doodgesteek toe hy probeer keer dat 'n man sy eienaar aanval.
Oktober sê iewers in die roesmoes is sy ander hond, Whitey, ook met die mes raakgesteek. Sy is na die veearts geneem waar sy vir 'n wond aan haar skouer behandel word.
"Die man kon my regtig eerder gesteek het. Daai honde is my alles. Hulle eet saam met my uit een bord, slaap saam met my op die bed en daar waar ek gaan is hulle. Hoekom moes die man my honde steek?"
Smith sê sy is verafsku oor hoe sommige mense hul honde behandel.
"Op 2 Februarie het Magda 'n hond in Arnold de Jager-rylaan gaan haal. Dit was 'n Amerikaanse veghond teef. Sy is dood in haar hok aan 'n kort ketting in die hitte aangetref. Dit was duidelik dat sy vir baie lank nie kos, water of aandag gekry het nie. Mense los honde in die hitte in voertuie en nou gooi hulle honde in dreine en steek hulle met messe. Ons wil 'n ernstige boodskap na mense uitstuur dat dieremishandeling nié verder geduld gaan word nie."
Whitey by die veearts nadat sy met 'n mes gesteek is.
Smith het Donderdagoggend twee klagtes van dieremishandeling by die polisie ingedien. Een oor die Amerikaanse veghond wat dood is en een oor die hond wat met die mes gesteek is.
"Ons het die gemeenskap se hulp nodig om dieremishandeling in Oudtshoorn hok te slaan. Ons wil hê mense moet ons laat weet en die voorvalle by ons aanmeld."
Smith het ook gesê sy gaan 'n beloning uitreik vir enigiemand wat inligting het oor die hond wat in die drein gevind is. In 'n ander voorval is 'n Amerikaanse veghondjie van 'n paar maande oud by sy eienaar weggeneem nadat die hondjie in 'n bakkie in 'n parkeerterrein gevind is waar dit met 'n tou om die nek aan die bakkie se stuurwiel vasgemaak was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'