OUDTSHOORN NUUS - Die misdaadvoorkomingseenheid in Oudtshoorn het sedert Januarie tot April vanjaar verskeie suksesse behaal.
Brig. Susan Crafford, Oudtshoorn se stasiebevelvoerder, het die week gesê dat sy trots is op haar lede wat hard werk, ten spyte van die feit dat hulle lewens baie kere in gevaar gestel word.
Volgens haar is daar sedert Januarie tot April vanjaar, 877 verdagtes gearresteer.
"Die misdrywe wissel van dwelmverwante misdrywe, waarvoor daar 333 persone in hegtenis geneem is, tot onwettige besit van vuurwapens, besit van vermoedelik gesteelde eiendom, besit van huisbraakgereedskap, besit van gevaarlike wapens en besit van ammunisie, en nog baie meer. Die lede het ook 'n geweldige klomp gevaarlike wapens en 22 403, 31 gram dagga, 263 daggaplante, 303,99 gram tik, 776,75 Mandrax-tablette en 587,15 liter drank gekonfiskeer."
Ao. Jacobus Berry, een van die misdaadvoorkomingseenheid se skofbevelvoerders, sê dat misdaad hul besigheid is.
"Ons werk hard om die misdaadsyfer af te bring, maar ons kan dit nie sonder die hulp van die gemeenskap doen nie."
Ao. Duppie du Plessis sê hulle kry bitter min samewerking van die gemeenskap.
"Ons grootste probleem tans is dat ons teen misdadigers wil optree, maar word dan in die gemeenskap met klippe gegooi sodra ons die arrestasie wil uitvoer. Ons plaas ons lewens op die spel om die gemeenskap te probeer beveilig, maar die gemeenskap maak dit vir ons moeilik."
Die lede sê drank en gevaarlike wapens is tans hul grootste nagmerries in die gemeenskap.
"Mense drink hulself stormdronk, veral oor naweke en dit is dan wanneer geslagsgebaseerde geweld en ander geweldsmisdade soos poging tot moord en moord plaasvind. Hulle loop met pangas en messe en allerhande skerp voorwerpe rond. Dit is vir hulle so maklik om iemand te steek as hulle te veel gedrink het, maar as ons wil optree raak die gemeenskap kwaad."
Crafford sê hulle wil die gemeenskap aanmoedig om die polisie te help eerder as om met hulle te baklei.
Die ander probleem waarmee die polisie sit as daar te min bronne is wat die polisie met "tips" help.
"My lede word met messe gesteek en met klippe gegooi wanneer hulle gemeenskappe probeer beveilig. Werk eerder saam met ons. Help ons met inligting oor die booswigte sodat ons die vrot appels uit die gemeenskap kan roei."
Sy het verder gesê dat om buurtwagte te stig net so belangrik is.
"Die polisie kan nie altyd oral gelyk wees nie, maar die gemeenskap kan help met patrollies en die skofbevelvoerders laat weet wat in die gemeenskap aangaan. Ons stasie is onder die top-20 stasies in die Wes-Kaap wat geweldsmisdrywe aanbetref. Met die gemeenskap se hulp kan ons maklik een van die veiligste dorpe word.
Foto: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’