OUDTSHOORN NUUS - Die minister van maatskaplike dienste, Jaco Londt, het die week gereageer op die berig Wie sit kos op die tafel? wat op 3 April geplaas is.
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het in ’n gesprek tydens die KKNK gesê: “Oudtshoorn se sosiale en veiligheidskwessies kan direk voor die deur van die departement maatskaplike ontwikkeling gelê word.”
Allers, het daarop klem gelê dat die munisipaliteit tans goeie samewerking van die Suid-Afrikaanse Weermag, asook Oudtshoorn-polisie kry om sosiale kwessies binne die gemeenskap aan te spreek. Allers is egter van mening dat die departement van maatskaplike dienste erg faal in hul taak in die dorp.
Londt het gesê dat hulle kennis neem van die burgemeester en ander paneellede se bekommernis en sal graag aansluit by die komitee om aangeleenthede binne maatskaplike dienste se raamwerk te bespreek.
Hy het bygevoeg dat dit "betreurenswaardig is dat die burgemeester nou op vele platforms alle blaam op ander wil skuif, dit nadat daar al vele kere met hom geskakel was op beskikbare platforms en hy nie gebruik maak daarvan nie.
Ons sal in samewerking met die nuut aangestelde streekbestuurder van maatskaplike dienste vir die Eden- en Karoo-distrik, waaronder Oudtshoorn val, en ander rolspelers werk om opsies op die tafel te sit gebaseer op werkswyses in ander dorpe wat reeds vrugte afgewerp het.”
Hy het bygevoeg dat indien daar probleme met maatskaplike dienste ervaar word, hulle gekontak moet word.
Kontakbesonderhede
- Die plaaslike kantoor van maatskaplike dienste in Oudtshoorn is geleë in die Seppie Greeff-gebou in Voortrekkerweg. Vir navrae kan inwoners die kantoor skakel by 044 814 2131.
- Vir algemene navrae of om ’n saak aan te meld, kan die departement ook gratis geskakel word by die tolvrye nommer 0800 220 250, of ’n e-pos gestuur word na SD.CustomerCare@westerncape.gov.za.
- Die Eden-Karoo-streekkantoor is in George geleë, in die Yorkpark-gebou op die hoek van York- en St. Johnstraat. Kontak hulle by 044 814 1687 of stuur ’n e-pos na DSDEdenKaroo.Enquiries@westerncape.gov.za.
Lees die betrokke artikel hier: Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’