OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het Woensdagaand by die geskiedkundige woning van CJ Langenhoven (Arbeidsgenot), sowat 10 ontspannings-fietse aan Kunste Onbeperk oorhandig.
Kunste Onbeperk se kantore word tans gehuisves by Arbeidsgenot, en is die maatskappy wat jaarliks die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Klein Karoo Klassique, Teksmark en ander projekte aanbied.
Marais het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat sy twee jaar gelede die Kwaku-somerfees in Amsterdam bygewoon het, en is daar voorgestel aan 'n werknemer van KLM (Koninklijke Luchtvaart Maatschappij)-lugredery.
"Ons het aan die gesels geraak, en hy het terloops aan my genoem dat KLM-lugredery ontspanningsfietse het wat hulle versprei.
Dié fietse, wat Marais sommer Happy-fietse noem, word tradisioneel daagliks deur lukraak mense in Nederlandse gesinsparke gery, en dan weer terugbesorg wanneer hulle die park verlaat.
"Tydens ons gesprek het ek aan hom genoem dat hierdie fietse in Suid-Afrika baie handig te pas sou kom waar behoeftige kinders dikwels lang afstande moet loop om by hul sport, drama en kulturele-oefeninge aan te meld. Net daar en dan het ons 'n ooreenkoms aangegaan dat die fietse in Suid-Afrika afgelewer sou raak."
Volgens Marais het hulle die besending fietse (270 in totaal), eers twee maande gelede gekry.
"Ons het al amper vergeet van die fietse, het sy geskerts. Alhoewel ons omtrent gesukkel het om die fietse deur ons nasionale lughawe-doeane te kry as gevolg van dokumentasie en fooie, is dit darem nou agter die rug, en kan die opwindende proses om hierdie Happy-fietse in Suid-Afrika te verdeel, uiteindelik begin."
Marais het reeds amptenare in plattelandse munisipaliteite geïdentifiseer wat haar sal bystaan om 'n behoeftebepaling in hul onderskeie gemeenskappe te doen wie regtigwaar die fietse nodig het.
Sy het ook beklemtoon dat dié fietse spesifiek vir sport en kulterele behoeftes aangewend sal word.
Volgens Hugo Theart, nuutaangestelde artistieke-direkteur van Kunste Onbeperk, is dit 'n baie groot geskenk vir die maatskappy. "Ons personeel, wat die EPWP (Uitgebreide Openbare Werke Program) internwerkers insluit, sal die fietse vir eers tydens die komende Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gebruik om die besige verkeer te omseil. "Met hierdie fietse wil ons ook graag op ons klein manier 'n gesonde leefstyl in die dorp bevorder."
Hierdie tipe inisiatiewe maak dit definitief moontlik om Oudtshoorn in die toekoms meer en meer as 'n eko-vriendelike en fietsry-dorp te bemark, het hy bygevoeg.
Die KKNK vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar van Donderdag 21 Maart tot Woensdag 27 Maart op Oudtshoorn.
Van links is Stacey Mclean (MLO), Anroux Marais (minister van kultuursake en sport), Hugo Theart (artistieke-direkteur van Kunste Onbeperk), Annelise Nell (administratiewe koördineerder), Faren Esau (programadministrateur) en Cobus Nell (EPWP-intern) Foto:Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'