Update
OUDTSHOORN NUUS - Ten spyte van die naweek se reën is damvlakke in die Oudtshoorn-omgewing steeds op kritieke vlakke. Die vlak van die Koos Raubenheimer-dam wat drinkwater aan die Groter Oudtshoorn-gebied lewer het sedert die naweek 31.54% tot 35.54% (Woensdag se vlak) gestyg.
Tussen 10 en 15 cm sneeu wat die afgelope naweek op die Swartberge geval het, kan daartoe bydra dat die vlak nog 'n bietjie styg. As gevolg van die lae damvlak is die streng waterbeperkings wat twee weke gelede ingestel is, steeds van krag.
Alhoewel damvlakke nie noemenswaardig gestyg het nie, het die wydverspreide deurdringende reën tog 'n mate van verligting vir boere in die Klein-Karoo gebring.
"Ek is dankbaar om uiteindelik ook ons opgewondenheid oor die reën te kan deel," sê Laubscher Coetzee van Volmoed, waar dit 26 mm gereën het. "Dit het sag, deurdringend en aanhoudend oor 'n wye gebied gereën. Die bolope van die riviere het begin loop; ons bid vir goeie opvolgreën."
Die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging se damme het ook 'n bietjie water gekry. Die damme verskaf besproeiingswater aan boere laer af langs die Kammanassie- en Olifantsrivier.
Volgens Riaan Krüger, bestuurder van die skema, het die Stompdriftdam se vlak van 5,54% tot 5,82% gestyg, terwyl die Kammanassiedam se inhoud van 3,71% tot 4,31% gestyg het. "Die kleiner takriviere loop nog 'n bietjie af," sê Krüger. In die opvangsgebied van die Stompdrift- en Kammanassiedam het dit onderskeidelik 20 mm en 25 mm gereën.
Ricardo Classen van Uniondale berig dat tussen 42 mm reën by Toorwater en Barandas, tot 117 mm by Kammanassie en 157 mm by Avontuur geval het. In die Langkloof het ook sneeu geval wat help om die grondwaterbronne te voed.
Benewens die sneeu, het die Swartberge 30 mm reën gekry en die Outeniquaberge tussen 55 en 60 mm. By Joubertina in die Oos-Kaap het meer as 200 mm in die berge geval.
Ten spyte van ongeveer 20 mm reën in die opvangsgebied van die Nelsrivierdam wat water aan die Calitzdorp-munisipaliteit en besproeiingswater aan boere verskaf, die vlak is 3% laer as twee weke gelede en lê nou op 10%. Die Gamkapoortdam tussen Calitzdorp en Ladismith is steeds dolleeg, net soos die Gamkadam by Beaufort-Wes.
Lees 'n vorige artikel hier: min verandering aan damvlakke na reën
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'