OUDTSHOORN NUUS - Lede van die verbruikersadviespaneel van ICASA (Independent Communications Authority of South Africa) in Centurion, Gauteng, het die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) besoek om met personeel, bestuurslede en kliënte te gesels oor die tekortkominge, en toegang vir personeel met gestremdhede ten opsigte van telekommunikasiedienste, uitsaaidienste en poskantoordienste.
Hierdie platform was oop vir almal om hul insae te lewer, vrae te vra en tekortkominge en griewe te opper.
Die voorsitter van APD-Oudtshoorn, Sheraldine Mslane, het klem gelê op die frustrasie vir persone met gestremdhede en die tekort aan toegang vir dié persone by besighede, kantore en geboue in Oudtshoorn. Sy het ondermeer genoem van die Bridgton-poskantoor wat toegemaak het, en ook die Oudtshoorn-poskantoor wat nie oor 'n reëling beskik om aan vas te hou of 'n rolstoeloprit het nie.
Verder het sy genoem van besighede en banke se toonbanke wat so hoog is dat persone in rolstoele nie kan bykom nie.
Sy het 'n verdere voorbeeld genoem van radiostasies wat nie meer programme vir persone met gestremdhede, soos waar om watter nodige dienste te bekom, uitsaai nie. Haar frustrasie is dat gestremdes in Oudtshoorn uitgelaat en geïgnoreer word.
"Dit is frustrerend want ons by APD-Oudtshoorn doen alles om sigbaarheid te skep vir gestremdes in die gemeenskap."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’