Na 'n ondersoek wat reeds verlede jaar begin is het speurders van die plaaslike eenheid teen ernstige geweldsmisdaad (EGM) verlede Vrydag 'n operasie geloods wat tot die arrestasie van ses verdagtes gelei het.
Drie beamptes van die lisensie-afdelings op die twee dorpe is Vrydag gearresteer en het Maandag in die hof verskyn. Op Calitzdorp is Randal van der Berg (29) en Calvin Essau (30) elk op R5 000 borgtog vrygelaat en verskyn weer op 27 Julie in die hof. Op Oudtshoorn is die ander amptenaar, Cynthia Mani (39) ook op R5 000 borgtog vrygelaat en verskyn weer op 4 Julie in die hof.
Drie persone verbonde aan twee bestuurskole is ook gearresteer. Lusindiso Mnotoza (21) en Simon Ngcoba (32) van Simbela-bestuurskool is onderskeidelik Vrydag en Saterdag gearresteer. Altwee het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van bedrog.
Mnotoza is vrygelaat op R5 000 borgtog en moet elke dag tussen 08:00 en 10:00 by die polisiekantoor aanmeld totdat hy weer op 27 Julie in die hof verskyn. Geen borgtog is aan Ngcoba toegestaan nie, hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 4 Julie. Die eienaar van die Mfundisi-bestuurskool, Walter Mathe (36) is Dinsdagoggend om 04:30 gearresteer. Hy is op R5 000 borgtog vrygelaat en verskyn weer op 27 Julie in die hof.
Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Robin Carlisle het die redakteur van die Oudtshoorn Courant verlede Donderdagmiddag geskakel en meegedeel dat die operasie Vrydagoggend sou plaasvind. Hy het dit gedoen as deel van 'n onderneming wat die koerant reeds in Januarie geneem het om nie enige beriggewing oor bestuurskole te doen wat moontlik die ondersoek kan benadeel nie.
Carlisle het Vrydagoggend per e-pos sy waardering teenoor die koerant uitgespreek vir verantwoordelike beriggewing, vir gereelde inligting wat deur die koerant deurgegee is aan die ondersoekspan asook die koerant se rol om ander ander beriggewing oor die ondersoek stil te hou. Lede van die publiek, Afriforum, OudtshoornOnline en Die Hoorn het ook bewus geword van die ondersoek en het op hulle beurt ook onderneem om nie die ondersoek openbaar te maak voordat die operasie geloods is nie.
Moontlik nog arrestasies
Alhoewel slegs ses persone sover gearresteer is, is die ondersoekspan oortuig daarvan dat hulle genoeg inligting tot hul beskikking het om nog arrestasies uit te voer. Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant die afgelope maande bymekaargemaak het is dit onwaarskynlik dat slegs die gearresteerdes bewus was van die ongerymdhede.
Die skaal waarop die vals lisensies uitgereik is en die groot hoeveelhede mense wat uit die Oos-Kaap hierheen gestroom het en die lisensiekantore op 'n daaglikse basis beset het maak dit moeilik om te glo dat slegs drie amptenare betrokke was en dat diegene wat wel weet van ongerymdhede onbepaald sal stilbly.
Tydens een besoek van die Oudtshoorn Courant aan die lisensiekantore verlede maand was daar slegs een dienspunt wat plaaslike mense gehelp het. By die twee ander vensters het twee rye elk met bykans 15 mense gestaan wat glo van buite Oudtshoorn was. Dit was so besig dat die verkeershoof self as kassier by een van die vensters opgetree het. 'n Onbekende man het tussen die twee rye heen en weer beweeg en mense gehelp om die korrekte dokumentasie te bekom. Iemand wat op die terrein werksaam was het die koerant ook daarop gewys dat 'n fotograaf langs die gebou ingerig is om lisensiefoto's te neem.
Bewerings dat die "fotograaf" 'n verkeersamptenaar was kon nie bevestig word nie. Buite die gebou het nog ongeveer 20 mense rondgestaan terwyl nog 'n groot groep naby die toetstrerrein gewag het vir lesse. Die groot aantal mense is toegeskryf aan die feit dat die munisipale kantore vir die langnaweek gesluit was. In antwoord op navrae wat vroeër aan die verkeershoof Thembuxolo Tytaya gestuur is het hy gesê dat hy nie bewus is van enige ongerymdhede by die verkeersafdeling nie en dat mense uit die Oos-Kaap hulle lisensietoetse op Oudtshoorn kom doen omdat dit goedkoper is.
Miljoene ter sprake
Daar word vermoed dat bykans 100 mense vanuit die Oos-Kaap elke week in Oudtshoorn in huise en woonstelle gehuisves is om lisensies te bekom. Daar is aanvanklik verneem dat 'n lisensie ongeveer R3 000 kos. Dit was die bedrag wat 'n Oos-Kapenaar in Februarie aan die Oudtshoorn Courant gegee het toe foto's geneem is van 'n groep wat by die hangbrug in Kerkstraat gewag het vir bestuurslesse.
Nuwe inligting dui egter daarop dat ongeveer R6 000 per lisensie betaal word. Vir die bedrag kry die persoon vervoer, huisvesting, 'n leerlinglisensie, enkele bestuurslesse en 'n rybewys. Die hele proses duur 'n week; arriveer Sondag vertrek Saterdag (etes en vermaak uitgesluit). Met eenvoudige wiskunde kom die omvang van die bedrog skokkend na vore: R6000 x 100 (per week) x 4 = R2,4 miljoen per maand x 10 maande = R24 miljoen. Selfs as mens die bedrae of die getalle halveer is dit steeds 'n ongelooflike R12 miljoen wat onwettig hier op Oudtshoorn en Calitzdorp deur die sisteem is.
Dit blyk dat die twee grootste bestuurskole wat na bewering by die bedrog betrokke is Simbela en Mfundisi is. Veral Simbela se vloot voertuie is aansienlik aangevul gedurende die laaste paar maande. Dit is ook die twee bestuurskole waarvan voertuie onlangs in verskeie ongelukke betrokke was. Die polisie het gelas dat die twee skole glad nie verder mag voortgaan met hulle lesse totdat die ondersoek heeltemal afgehandel is nie. Daar is op hierdie stadium nie sekerheid of van die kleiner skole ook betrokke is by die bedrog nie, maar dit lyk asof voertuie wat nie name vertoon nie dalk ook deur Simbela en Mfundisi oorgekoop kon wees. Die Oudtshoorn Courant is ook besig om vas te stel of daar enige waarheid in bewerings steek dat van die bestuurskoolvoertuie aan amptenare en 'n raadslid behoort.
.jpg)
Die lisensiekantore op Oudtshoorn is die afgelope tien maande toegestroom deur mense vanuit die Oos-Kaap wat hierheen gekom het om rybewyse te bekom. Foto: Jaques Swart.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR