OUDTSHOORN NUUS - Mesmoorde blyk ’n toenemende bron van kommer in Oudtshoorn te wees nadat nog twee sterftes die afgelope naweek die aantal moorde waarby messe vanjaar betrokke was, op ses te staan gebring het.
Nico Kruger (42) en Shafnarine Evanichivick Esau (29) is in twee afsonderlike voorvalle dood nadat hulle die afgelope naweek meswonde opgedoen het.
Die jongste sterftes volg op verskeie ander noodlottige messteekvoorvalle vroeër vanjaar.
Die 16-jarige Roydin Jaars is op 20 Januarie oorlede nadat hy glo deur ’n 11-jarige doodgesteek is.
Op 3 April het Rozanne Botha, wat swanger was, haar lewe verloor nadat sy na bewering deur Gerswin Afrika in die been met ’n mes gesteek is. Sy het later in haar ouerhuis doodgebloei.
Nog ’n voorval het op 14 April plaasgevind toe Rian Gelant tydens ’n beweerde onderonsie deur ’n vrou in die bors gesteek is. Hy het later aan sy beserings beswyk.
Janine Dirks is op 25 April oorlede nadat haar kêrel na bewering haar met kookwater gegooi en daarna met ’n mes gesteek het.
Mesmoorde kom algemeen voor omdat messe goedkoop, vrylik bekombaar en maklik is om weg te steek. Dit word dikwels gebruik in misdade sonder voorbedagte rade soos impulsiewe argumente of in misdade waar rowers vinnig toegang tot ’n wapen wil hê.
Anders as vuurwapens, vereis messe geen lisensies of agtergrondondersoeke nie, wat dit ’n maklik bekombare wapen maak. Volgens kenners word messe daarom dikwels die wapen van keuse in gewelddadige voorvalle en huishoudelike konflikte.
Kenners wys ook daarop dat baie mesmoorde uit impulsiewe situasies ontstaan. Straatgevegte, argumente en gevalle van gesinsgeweld kan vinnig handuit ruk wanneer ’n mes binne bereik is, met noodlottige gevolge.
Jongman besoek Oudtshoorn vir begrafnis, word vermoor
’n 27-jarige verdagte is in hegtenis geneem deur Oudtshoorn-polisie na die mesdood van Shafnarine Evanichivick Esau (29) Sondag 17 Mei.
Die voorval het ongeveer 02:00 die oggend in Rocky Hill, Oudtshoorn plaasgevind.
Adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Daar word beweer dat die twee mans in ’n stryery betrokke was by familie se huis toe die voorval gebeur het. Die verdagte het die oorledene met ’n mes in die bors gesteek waarna hy ineengestort het.”
Volgens Spies is Esau op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die veragte bly in aanhouding, en duur die ondersoek voort.
Volgens inligting van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) was Esau saam met sy ma op besoek in Oudtshoorn vanaf Kaapstad vir sy ouma se begrafnis. Die res van sy familie, onderskeidelik sy pa, suster en broer woon in Upington en Pretoria.
Nico Kruger
’n 42-jarige man van Bridgton, Nico Kruger, is dood nadat hy deur ’n groep mans Sondagoggend, 17 Mei ongeveer 09:35, aangerand is.
Volgens inligting vanaf ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is Kruger na die aanval deur ’n vriend huis toe geneem, maar het tuis aan sy beserings beswyk.
“Die man het in Norah Poth-straat, Bridgton geloop toe hy deur die groep mans oorval en in die long met ’n mes gesteek is. Die oorledene is deur paramedici op die toneel dood verklaar.”
Spies het bevestig dat ’n verdagte in hegtenis geneem is en sal later in die week op aanklag van moord in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’